Bible Society of South Africa

In pas met God: Planne vir vrede - 16 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

SPREUKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Toe ek op Oujaarsdag in die motor klim om kerk toe te gaan, hoor ek hoe die radio-omroeper haar luisteraars vra wat die beste manier is om die nuwe jaar te benader en hoe om goeie planne te maak. Ek het die ironie geniet, want daar waarheen ek onderweg was mag daar dalk op dieselfde vrae gefokus word, want ‘n nuwe jaar bly ‘n uitdaging.

Ons dink na oor dit wat ons in die ou jaar bereik het en ook oor die teleurstellings. Ons probeer vasstel hoe ons anders kan beplan en voorbereid kan wees op die onverwagte. Ons besef dat ons die onbekende betree en nie kan sien wat voorlê nie. So, alhoewel die nuwe jaar verkwikkend kan wees en ‘n element van afwagting inhou, ons nuwe aspirasies mag hê en uitsien om nuwe geleenthede te ontdek, is dit nie maklik om onfeilbare planne te maak nie.

Ons het in hierdie tye rigting nodig – nie net vir die onbekende jaar nie, maar ook vir die daaglikse komplekse wêreld waarin ons ons bevind. Ons weet dit, maar tog soos klein kindertjies maak ons dikwels irrasionele planne. Ons vergeet ons beperkings en is dan teleurgesteld as ons planne nie uitwerk nie, heeltemal onbewus van die groter prentjie.

Vandag se teksvers beklemtoon hoekom God lewensbelangrik vir ons beplanning is: Hy besluit of planne tot hulle reg sal kom of nie. Hy het die volle kennis. In Jesaja 55:8 lees ons: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here.” Ons benodig sy leiding. Wanneer ons planne nie reg is nie, mag ons vind dat ons lewens ontwrig word. God wil dat ons “sal vra na [sy] wil … met [ons] hele hart daarna vra.” (Jeremia 29:13)

Die Here het planne vir ons: “voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” (Jeremia 29:11). Uit liefde laat Hy alles ten goede meewerk vir sy kinders. (Jeremia 31:3, Johannes 3:16) Maar net soos die Israeliete met wie God deur Jeremia gepraat het, moet ons verstaan dat ons ons aan sy tydsberekening moet onderwerp want, selfs in die donkerste tye wanneer ons dink dat Hy ons vergeet het, sal Hy sy belofte hou.

Hy het gesê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jesaja 41:10) Ons kan weet dat, maak nie saak wat gebeur nie, as ons die nuwe jaar in pas met God betree, sal ons sy vrede ondervind.

Wanneer ons in ons verhouding met God groei, spandeer ons tyd met Hom, ons geloof floreer en sy Woord verander ons denke, Hy lei ons verwagtinge en “Hy [beloon] dié wat Hom soek”. (Hebreërs 11:6) Miskien moet ons vanjaar opkyk na die Een wat tyd en die toekoms beheer, en saam met die psalmdigter bid: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” (Psalm 90:12)

Sal dit nie die beste wees om ons planne te maak saam met die Een wat bepaal hoe ons loop nie?

Gebed: Genadige God, U is die Een wat bepaal dat “elke ding sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld sy tyd [het].” (Prediker 3:1) Lei my vanjaar deur u wysheid en skenk aan my geloof om U te volg. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS