Bible Society of South Africa

In pas met God: 'n Nuwe hart, nuwe klere - 25 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.

KOLOSSENSE 3:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Klere is deel van ons sedert Adam en Eva vyeblare aanmekaargewerk het om hulle naaktheid te bedek (Genesis 3:7), en waarna God genadiglik klere van dierevelle voorsien het. Deesdae is daar ‘n uitrusting vir elke geleentheid – behalwe as jy soos ons klein Audie is wat op ‘n keer geglo het dat sy vir kleuterskool 14 rokkies oormekaar moes dra sodat haar rompie doeltreffend kan draai en swaai!

Klere pas gewoonlik by ‘n persoon se rol of status – Johannes die Doper se kameelhaar kleed met ‘n leergordel was baie geskik vir ‘n profeet in die woestyn – maar dit sou nie vir ‘n koning geskik gewees het nie.

Televisiekykers het onlangs tydens die kroning van Koning Charles III ‘n ander perspektief op kleredrag gekry. In die waardige seremonie in Westminster Abdy is die ou ritueel met prag en praal uitgevoer. In hierdie omgewing het die monarg sy eed afgelê om sy land te dien soos die Here Jesus wat gekom het “nie om gedien te word nie, maar om te dien”. Die koning het beloof om hierdie voorbeeld na te volg. Tydens ‘n belangrike oomblik in die seremonie het die prins sy koninklike klere met ‘n eenvoudige wit linnehemp vervang om sy nederigheid as sterfling voor God uit te beeld. Daarna is hy met olie gesalf, het weer sy koninklike klere aangetrek en is toe as koning gekroon.

Wanneer Paulus egter vir die Kolossense sê om hulleself te beklee, verwys hy nie na die uiterlike nie, maar sy woorde mag dit wel ook beïnvloed. Hy moedig hulle aan om te dink oor hoe Christus, wat nou in hulle woon, se liefde hulle verander het, en nie vas te hou aan hulle ou gedragspatrone wat hulle op ‘n ewige skeiding van God laat afstuur het nie. Die hemel, waar hulle vir altyd by Hom sal woon, is nou hulle bestemming en daar is geen plek vir hierdie besmette dinge nie – hulle moet hulle ingesteldheid verander.

Hy herinner hulle daaraan dat Jesus hulle gereinig en nuut gemaak het, en dat hulle heilig moet bly want, “Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn.” (Kolossense 3:4) Jesus het gesê: ” ‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke, en beide bly behoue.” (Matteus 9:17)

Paulus noem hulle sondes op met al die vernietigende houdings en gedrag wat dit veroorsaak en wat uitgewis moet word: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is, en wat hulle sal vernietig. Verder noem hy ook woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit hulle mond kom, en leuens. Hy dring by hulle aan om hulle eerder te beklee met kwaliteite wat in liefde geanker is – innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. “Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.” (Galasiërs 5:23b)

Paulus praat ook met ons. Ons kan net in pas met God bly as ons Hom ernstig opneem, eerlik na onsself kyk, en die waarheid en wysheid van sy Woord uitleef.

Het ons skoon klere nodig?

Gebed: “Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my,en ken my ontstellende gedagtes.” (Psalm 139:23) “U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe … Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.” (Psalm 51:8,10, 1983-vertaling) Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS