Bible Society of South Africa

In pas met God: Kyk op en wees bly - 17 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

2Die hemel getuig van die mag van God,

die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

Vroeg een oggend, nie lank na Kersfees nie, word ek tot my vreugde by my kombuisvenster begroet deur die delikate goue strale van die opkomende son wat op ‘n hemelruim vol watteagtige wolkies reflekteer. In die stilte van die oggend, verheug oor dié pragtige, onverwagse toneel, kon ek net fluister: “Here God, hoe wonderlik is U!” Hierdie pragtoneel het tot spontane aanbidding gelei. Dit was die inspirasie vir ‘n hart vol dankbaarheid en ek het begin sing – nog voor ek die ketel aangeskakel het.

Die lied wat die oomblik vir my vasgevang het, was een van die eerstes wat ek in die laerskool geleer het – ‘n eenvloudige lied vol blydskap. Die woorde lui soos volg:

“When morning gilds the skies
My heart awaking cries: “May Jesus Christ be praised!”
Alike at work and prayer
To Jesus I repair;
May Jesus Christ be praised!”

Ons het dit uit volle bors gesing, veral wanneer die musiek die woorde, “May Jesus Christ be praised” triomfantlik beklemtoon het. Ek het nie toe die belangrikheid van alles besef nie, maar ek besef nou dat God se Gees op so ‘n manier beweeg dat aanbidding en lewe nou verweef is en dat dit, deur die lewe wat Jesus ons gee, tot ‘n diep, betekenisvolle ervaring lei, en dat die hele Skepping na Hom wys: “Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan … in Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.” (Johannes 1:2,3a,4)

Die tweede vers van Psalm 19 moedig ons aan om op te kyk na die hemel waar die grootsheid van God se handewerk is vir almal om te sien. Of ons nou na ‘n wonderlike sonsondergang staar, of ‘n dramatiese storm beleef, of betower word deur die gesig van miljoene sterre – en die maan wat voortdurend verander – dit is maklik om te glo: “Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.”

Hierdie dinge wat elke dag vir ons plesier gee, kry nuwe betekenis wanneer ons opkyk en die Gewer daarvan erken. Wanneer ons die Gees toelaat om in ons harte te werk, vind ons vryheid om verby onsself en ons beperkinge te kyk. Hoe meer in pas ons met God is, hoe meer sal ons Hom oral sien, ons verheug in die asemrowende wonders wat Hy aan almal gee en elke dag as ‘n geleentheid sien om Hom te eer.

Inderdaad, mag ons Jesus Christus loof en prys vir alles wat Hy gedoen het!

Ons het onlangs, in die Kerstyd, die wonder van sy nederige geboorte herdenk en Hom aanbid, maar die dag sal kom wanneer “in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader.” (Filippense 2:10-11) Dan sal ons die volle blydskap ervaar om in aanbidding voor sy troon neer te buig.

Gebed: “HERE, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat luister bo die hemelruim vestig.” (Psalm 8:2) Here Jesus, daar is niemand en niks soos U nie, daar is niemand wat vir my gedoen het wat U gedoen het nie. Help my om U elke dag met blydskap te aanbid. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS