Bible Society of South Africa

In pas met God: Toewyding - 18 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

11En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.

In Jesus se tyd is bote op die Meer van Gennesaret (See van Galilea) gewoonlik gebruik om vis te vang, of mense en goedere van die een kant na die ander kant te vervoer. By tye het Jesus ook ‘n boot gebruik om die skares te onderrig – soms om die skares te bereik of soms as ‘n voorwerp om sy dissipels oor iets te leer. Dit was altyd wonderlik en onvergeetlik. Vandag se vers vertel van een van hierdie geleenthede.

Redelik aan die begin van die gedeelte waarin ons teksvers voorkom, verwys Lukas na bote wat langs die meer lê. Hierdie frase kom ook in ons teksvers voor, maar hier in die begin verwys Lukas na die nag se werk wat verby is. Jesus het die bote gesien en die geleentheid aangegryp om die skare te onderrig. Hy het in Simon se boot geklim en hom gevra om ‘n entjie van die land af weg te roei.

Lukas sê nie wat Jesus die skare daardie dag geleer het nie, maar wel dat Hy Simon aangesê het om saam met sy makkers weer uit te gaan en die pas gewaste nette uit te gooi om vis te vang. Simon was onwillig: “Meester, … ons het die hele nag geswoeg, maar op U bevel sal ek die nette weer laat sak.” (Lukas 5:5) Onder die omstandighede was Simon se onwilligheid om weer te probeer verstaanbaar, maar as gevolg van ‘n groeiende geloof in Jesus het hy ingestem.

Wat daarna gebeur het – ‘n vangs so groot dat Simon die hulp van sy makkers moes inroep – het wel amper beide bote gesink, maar dit het die vissermanne diep geraak. “Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.” (Lukas 5:8) Die besef van wie Jesus was, het Simon diep bewus gemaak van sy sonde en dat hy nie werd was om in Jesus se teenwoordigheid te wees nie.

Maar Jesus het onmiddellik vir Simon daardie woorde gesê wat mense regdeur die geskiedenis gehoor het wanneer hulle met die teenwoordigheid van God gekonfronteer is: “Moenie bang wees nie” en toe het Hy sy visie vir die werk wat Hy vir Simon beplan het, bygevoeg: “Van nou af sal jy mense vang.” (Lukas 5:10b)

‘n Visie is wat Simon Petrus nodig gehad het om sy waarde in Jesus se oë te besef, aangehelp deur die wonderwerk wat gewys het waartoe gehoorsaamheid aan Jesus kan lei. Nie net het hy alles agtergelaat en Jesus gevolg nie, maar Jakobus en Johannes het dieselfde gedoen. Hulle absolute toewyding is bewys deur hulle dapper en oortuigde besluit om saam met Simon Petrus Jesus te volg. “Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.” (Lukas 5:11)

Jesus het dieselfde visie vir elkeen wat in Hom glo. Het ons, soos die vissermanne, sy roepstem gehoor en onomwonde besluit om Jesus te volg en vir altyd ons lewens aan Hom toe te wy?

Gebed: Here Jesus, help my om deur u genade myself aan U oor te gee en die wonders wat U doen, raak te sien. Gee dat ek volkome aan U toegewyd sal wees en die goeie nuus van die evangelie sal uitdra oral waarheen U my lei. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS