Bible Society of South Africa

In pas met God: Om te glo is om te ontvang - 15 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.

Vir Maria was haar inleiding tot moederskap tydens daardie eerste Kersfees iets wat sy nooit sou vergeet nie en alles het oor geloof en ontvangs gegaan. Dit het van haar totale geloof, volkome vertroue en buitengewone moed gevra, maar sy is ook beloon met ontsagwekkende verwondering en groot blydskap oor dit wat God vir haar en haar Kindjie gedoen het. Iets waaroor sy telkens weer nagedink het.

Het enige nuwe ma, voor of na Maria, al soveel lof en eer ervaar as sy?

Skaapwagters het haar Kindjie besoek en kom vertel van die sterverligte hemelruim gevul met ‘n menigte engele wat sy geboorte aankondig en God loof en prys. Wyse manne uit die Ooste het ook gekom, voor die Kindjie gebuig en Hom aanbid. Hulle het buitengewone geskenke gebring wat betrekking gehad het op beide sy lewe en dood en hulle het ook ‘n verhaal vertel van ‘n wonderlike ster wat hulle gelei het na presies die plek waar Hy was.

As ‘n jong swanger vrou was Maria nie net baie bly oor die wonder van ‘n nuwe lewe in haar nie, maar sy het ook die druk van hierdie groot voorreg ervaar. God het aan haar vrede gegee en sy het in geloof en gehoorsaamheid voortgegaan. (Lukas 1:38) Soos enige ander moeder het sy ook baie kosbare herinneringe gehad om te onthou, maar dit wat Maria met Jesus beleef het, was ver bo enigiets wat sy haar ooit kon indink. Haar lewe was ‘n volgehoue reis van genade en deur Jesus se geboorte het sy tot dieper begrip gekom.

Augustinus het deels die paradoks van Maria se unieke ervaring van haar Seun vir ons vasgevang: “Hy is geskape uit ‘n moeder wat Hy geskep het, Hy is gedra deur hande wat Hy gevorm het …” [vry vertaal]. Die woorde van ‘n moderne lied voltooi egter die groter prentjie van die genade wat God aan Maria bewys het: “this child that you delivered, will soon deliver you”.

Kon sy ‘n groter geskenk ontvang het? Hierdie diep geloofsbelewenis sou haar deur haar Seun se lewe op aarde help.

Die ware viering van Kersfees is om te glo en te ontvang, geloof in Jesus Christus, God se enigste Seun wat gebore is om ons te bevry van die sonde van hierdie donker wêreld en om Hom net soos Maria, deur geloof in ons harte te ontvang. C S Lewis het gesê: “Soek Christus en jy sal Hom vind. En saam met Hom, alles anders.” [vry vertaal]

Glo jy en het jy al God se grootste geskenk ontvang? Kom ons vier dit!

“Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” (1 Petrus 1:8-9)

Gebed: Hemelse Vader, terwyl ons in groot afwagting saam met al u kinders wag om hierdie wonderlike gebeure te vier, sal U asseblief ons geloof laat groei en ons met heerlike blydskap vul vir die kosbare geskenk wat ons uit u genadehand ontvang. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS