Bible Society of South Africa

Hy sien wat ons nie kan sien nie - 19 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

13Die Here kyk uit die hemel

en sien al die mense.

PSALMS 33:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Kollega van my en haar familie het vir bykans twee jaar na haar broer gesoek. Hy het ná ’n traumatiese tyd in sy lewe kontak met hulle verbreek. In dié tyd het sy baie vir God gevra waar hy is en ook dat God hom moes beskerm.

’n Paar weke gelede moet hierdie kollega ’n paar oproepe by die werk maak. Ingedagte het sy per ongeluk ’n verkeerde nommer ingedruk. Dít het sy eers agtergekom toe die man aan die ander kant antwoord. Toe hy hoor dat sy ’n verkeerde nommer ingetik het, vra hy haar na wie sy dan eintlik soek. Só begin hulle gesels. Tydens die gesprek kom hulle agter dat hulle heelwat van dieselfde mense ken. Toe hy haar vra wat haar naam is, was hy verbaas. “Ek ken jou broer!” Sy was verbaas oor sy reaksie en vertel hom toe dat hulle reeds twee jaar na haar broer soek. Die man het vir ’n oomblik stilgebly en toe geantwoord: “Jy sal nie glo nie, maar jou broer bly by ons!” Daardie aand het sy en haar broer mekaar vir die eerste keer in twee jaar weer gesien.

In Psalm 33:13-14 lees ons: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.”

Kan jy jouself indink watter glimlag oor God se gesig moes sprei toe sy daardie dag die verkeerde nommer intik. Hy het geweet wat aan die ander kant op haar wag.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U sien wat ek nie kan sien nie. Help my om asseblief in U te rus te midde van my wagtyd op ’n deurbraak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS