Bible Society of South Africa

Dit begin by my - 20 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

2 KORINTIËRS 4:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Westminister-abdy in Londen staan die volgende woorde op ’n Anglikaanse biskop se grafsteen:
“Toe ek jonk en vry was en my verbeelding geen perke geken het nie, het ek gedroom hoe ek die wêreld wou verander Soos ek ouer en wyser geword het, het ek agtergekom dat die wêreld nie sal verander nie.

“Toe het ek my droom effens ingekort en besluit om net my land te verander. Maar ek het daarmee ook geen sukses gehad nie.

“In my herfsjare het ek nog een laaste poging aangewend om dinge te verander. Ek het min illusies oorgehad en besef dat ek tevrede sou moes wees om net my gemeente of selfs net my gesin te verander. Maar hulle wou niks daarvan weet nie.

“En nou, terwyl ek op my sterfbed lê, begryp ek, te laat: As ek maar net by myself begin het, sou ek dalk deur my voorbeeld my gesin en ’n paar gemeentelede kon verander. Met hulle inspirasie en bemoediging sou ons dalk ons land kon help verander. En wie weet, miskien sou ons selfs iets aan die wêreld kon doen.”

In 2 Korintiërs 4:16-18 lees ons: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

God wil ons daagliks kom nuut maak – ons gedagtes, ons hoop en die manier hoe ons kyk na die lewe en die seisoen waarin ons tans is. In stede van probeer om die wêreld te verander moet ons dalk eers begin om Hom te vra om ons te verander terwyl ons ons oë op Hom hou, die onsigbare, onverganklike God wat ewig bestaan. Sterkte.

Gebed: Vader God, help my om daagliks my gedagtes te vernuwe sodat ek in elke seisoen my oog op U kan hou. Lei my met (noem jou uitdaging). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS