Bible Society of South Africa

Hou moed in die donker … ’n Lig vir ander – 15 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,

maar oorwin die kwaad deur die goeie.

ROMEINE 12:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een Sondagoggend verlede jaar, op pad kerk toe, stop ons vinnig by ’n winkel. Ek was al hoogswanger en het in daardie stadium meer en meer soos ’n seekoei begin voel. By die betaalpunt het die vrou agter die kasregister vir my ’n kompliment gegee. Ek kan ongelukkig nie presies onthou wat sy gesê het nie, alles het in daardie stadium in mekaar begin vloei, en ek moet bieg, ek dink nou nog nie my brein het al heeltemal herstel nie. Wat ek wel kán onthou, is hoe sy my laat voel het. Sy het my dag opgevrolik en ek was sommer in ’n beter bui.

Net so het ek ’n kollega wat ’n wonderlike gawe het. Wanneer jy met haar gesels, kan jy sien sy luister na wat jy sê. Sy gee aandag, neem in en antwoord opreg. Sy laat jou voel asof jy die belangrikste mens is, asof alles wat jy te sê het, interessant is. Ná ’n gesprek met haar voel dit vir my ek kan enigiets vermag. Wat ’n gawe is dit nie! Veral in ’n wêreld waar baie mense totaal en al selfbehep is en luister om te antwoord en nie om te hoor nie.

Dit is eintlik so inspirerend en terseldertyd skrikwekkend as ’n mens dink aan die impak wat jou woorde en lyftaal op iemand anders kan hê. Die manier waarop jy praat en luister. Die dinge wat jy sê. Dit kan so ’n groot verskil maak in iemand se dag of week. Jy kan absoluut motiveer óf afbreek.

Die Amerikaanse skrywer Maya Angelou het gesê: “Ek het geleer mense sal vergeet wat jy gesê het, mense sal vergeet wat jy gedoen het, maar mense sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.” Laat ons daarom onthou om ’n lig te wees vir mense, waar ons ook al gaan – nie net met ons dade nie, maar ook met ons woorde en ons lyftaal, die klein dingetjies waaroor ons nie eers aldag dink nie.

Die Bybel moedig ons aan om goed te wees en goeie dinge te doen. Maar om gaaf te wees met iemand en hulle te laat goed voel oor hulself, is nie net betekenisvol nie, dit maak ’n blywende impak.

Gebed: Vader, gebruik my as ’n lig vir ander mense. Help my om nie net goed te doen teenoor mense nie, help my om hulle ook goed te laat voel sodat hulle u liefde deur my kan beleef en kan moed skep. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS