Bible Society of South Africa

Hou moed in die donker … Al gaan ek deur donker dieptes – 16 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

Dink ’n bietjie terug. Toe jy ’n kind was, waarvoor was jy bang? Kan jy onthou? Was jy dalk bang vir hansworse? Of spoke? Of groot honde?

Ek kan baie goed onthou dat daar veral twee dinge is waarvoor ek bang was:
1. Skoolsusters
2. Die donker

Ek was vir enige skoolsuster bang omdat ek geweet het hulle kom gee vir ons inentings by die skool en die idee daarvan het my in ’n koue sweet laat uitslaan. Letterlik. Die idee van ’n inenting laat my steeds amper omkap, so dit verg regtig al my moed wanneer ek by ’n verpleër of ’n dokter moet gaan aanklop.

En dan die donker. Ek is nou al ’n bietjie minder bang vir die donker maar as kind het ek altyd Psalm 23 in my kop opgesê as ek myself iewers in die donker bevind het. Soos as ek om een of ander rede in ons huis se lang gang moes afstap en die lig was af.

Ek verkies die lig want ek wil rondom my kan sien. Ek dink die meeste mense voel so. Behalwe dat ’n mens nie kan sien wat om jou aangaan as dit donker is nie, laat die donker jou dikwels alleen voel. Eensaam en uitgelewer. Dis nie ’n lekker kombinasie nie.

Is dit nie maar dieselfde gevoel wanneer jy deur moeilike tye gaan nie? As die angstigheid van die onbekende of die spanning van die situasie jou eers beet het, dan voel jy mos juis só – eensaam en uitgelewer. Bang, asof dit donker is rondom jou.

As kind het ek Psalm 23 in my kop afgerammel om myself veilig te laat voel, om myself te troos want ek was bang iets gaan my in die donker vang. Maar kom ek wees eerlik, in daai stadium was Psalm 23 en Johannes 3:16 seker die enigste Bybelverse wat ek goed genoeg geken het om op te sê! (Daar was darem die Onse Vader ook, maar ek sou dit moes sing…)

Tog, was dit eintlik nie ’n slegte idee om aan Psalm 23 vas te hou nie. Daar is ’n rede waarom dit een van dié bekendste Psalms van Dawid is. Die beelde wat dit by ’n mens oproep is die van kalmte, vrede en veiligheid – presies wat nodig is wanneer dit donker raak rondom jou.

Gebed: Vader, hou my hand vas wanneer ek deur donker dieptes moet gaan. Hou my hand vas en help my om te glo en te vertrou dat U my altyd veilig sal hou. Dankie vir u liefde en genade wat ons elke dag omvou. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS