Bible Society of South Africa

Hou moed in die donker … Jesus is die ware lig – 14 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

JOHANNES 1:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Goeie vriende se babaseuntjie is ongeveer drie maande te vroeg gebore. Hy was vir baie lank in die neo-natale hoësorgeenheid en met tye het dit regtig nie goed gegaan nie. Sy ouers was moeg en bekommerd, maar hulle is baie gelowig en het aangehou glo. Ons het almal saam gebid. Twee dae ná die dag wat sy oorspronklike geboortedatum sou wees, is die knapie ontslaan en kon hy eindelik saam met sy ouers huis toe gaan. Wat ’n vreugdevolle dag was dit nie!

Ja, die lewe is nie maklik nie. Ek kan sien hoe die mense rondom my al meer sukkel om kop bo water te hou – finansieel, emosioneel en psigies. Natuurlik is ons almal se omstandighede anders, almal het ander probleme en dinge wat hulle laat wakkerlê, maar die meeste mense wat ek ken, ervaar in die stadium enorme druk van een of ander aard.

Ons moet wel vashou aan die wete dat Jesus aarde toe gekom het om dié lig op ons pad te wees. En Hy is steeds daardie lig, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Ons moenie toelaat dat die donker ons verswelg nie. Daar ís nog goeie dinge wat gebeur, wonderwerke wat mense se lewens verander.

In Johannes 8:12 (Bybel vir almal) staan daar: “Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: ‘Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.’”

Ons moet mekaar herinner om aan te hou uitkyk vir daardie lig.

Gebed: Liewe Here Jesus, dankie dat U die lig in hierdie donker wêreld is. Ons prys U daarvoor! Help my om u hand rondom my raak te sien en te onthou dat u lig nooit deur die donker uitgedoof sal word nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS