Bible Society of South Africa

Hou moed in die donker … Hoe moet ons moed hou? – 13 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

2 KORINTIËRS 4:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Terwyl ek hierdie stukkie sit en skryf is ons krag af. Ek maak op my rekenaar se battery staat en sien uit na later wanneer die krag weer aangaan. Dis naweek en op hierdie oomblik is die gebrek aan elektrisiteit in ons huis gelukkig nie ’n enorme krisis nie – ek moes my wasgoed en ander take net uitstel tot ’n bietjie later. Tog, is dit nie heeltyd die geval nie – meeste dae verg dit haarfyn beplanning om alles gedoen te kry, net soos by die meeste ander huise.

Vroeër die week het ek juis vir ’n goeie vriendin ’n desperate stemboodskap gestuur. “Hoe moet ons moed hou?” het ek moeg en moedeloos gevra. Met twee klein seuntjies in hul huis is sy ook raadop en gedaan. Nes baie ander mense, kyk hulle ook nou hoe hulle kan maak om hulself tuis beter in te rig teen die beurtkrag.

Toe ek 2 Korintiërs 4:8 lees, kon ek daarmee identifiseer. Maar ek wil eintlik antwoord en sê, ek ráák moedeloos en negatief – nie net vir my en my geliefdes se onthalwe nie, ook vir ander mense wat meer uitdagings moet oorkom.

Wanneer ek kwaad en hartseer en moedeloos kla, herinner my man my dat ons sterk moet bly en moed moet hou, want om moedeloos te raak gaan ons nêrens bring nie en dit gaan vir seker nie die probleem oplos nie. So, nou probeer ek my bes. Maak dit my minder kwaad of gefrustreerd? Beslis nie. Ek glo wel daar is ’n verskil en ons moet onsself en mekaar daaraan herinner. In Psalm 46:2-3 staan daar immers: “God beskerm ons en Hy maak ons sterk, Hy is altyd gereed om ons te help. Daarom is ons nie bang nie, ook nie wanneer die aarde skud, en die berge tot in die see val nie …” (Bybel vir almal)

Ek probeer nou om bloot te doen wat ek kan en ek probeer om, ten spyte van die beurtkrag-uitdagings, vas te hou aan die wete dat God steeds in beheer is en op Hom te vertrou. Is dit nie juis wat geloof in God is nie? Daarom sal ek elke dag probeer om moed te hou.

Gebed: Here God, wanneer ons voel of daar geen uitkoms is nie, help ons om te onthou dat U altyd gereed is om te help. Maak ons sterk, help ons om nie moedeloos te raak nie en gee vir ons die nodige insig sodat ons wel sal weet wat om te doen as dinge swaar is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS