Bible Society of South Africa

Hou aan hardloop – 14 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?

ROMEINE 8:28-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

EFESIËRS 3:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

By ’n onlangse atletiekbyeenkoms in Amerika het Talaya, ’n 7-jarige dogtertjie, aan ’n kortafstand item deelgeneem. In ’n video wat haar ma langs die baan geneem het (sien skakel onder), sien ’n mens hoe sy met die wegspring haar skoen verloor. Terwyl die res van die kinders aanhou hardloop, stop Talaya om die skoen aan te trek voordat sy weer begin hardloop. Dan gebeur die ondenkbare. Met sowat 50 meter om te gaan tot die einde van die wedloop, hardloop Talaya verby die res van die deelnemers om as die wenner van die wedloop gekroon te word. Die video gee my elke keer hoendervleis.

Vir my is die video ’n illustrasie van wat God in ons lewens kan doen – sodra ons Hom toelaat. Wanneer ’n hindernis ons tref, kan dit vergelyk word met die oomblik wat Talaya se skoen uitgeval het. Dit ruk ons tot stilstand. In dié oomblik moet ons kies om óf van die baan te stap omdat ons vir onsself jammer voel óf ons kan kies om ons situasie aan God oor te gee en te hardloop met alles binne ons, wetende dat Hy ons die krag gee.

God begeer ’n verhouding met ons. Hy wil ons help. In Romeine 8:28,31 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet … Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” Ook in Efesiërs 3:20-21 staan geskryf: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe … (1983-vertaling)

God is stééds in staat om veel meer te doen as wat ons kan bid of dink – in jou huwelik, finansies, gesondheid, werksplek, noem dit. Kom ons raak rustig die week en vertrou dat Hy grootheid aan ons kom bewys. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek my lewe aan U kan oorgee. Ek bring spesifiek (noem die situasie) na U. Vul my asseblief met geloof wetende dat U alles ten goede laat meewerk vir die wat U liefhet. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS