Bible Society of South Africa

Niks is ooit permanent nie – 13 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

Elke ding het sy vaste tyd

1Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

3'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red,

'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou,

4'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag,

'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans,

5'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak,

'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af,

6'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak,

'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi,

7'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk,

'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat,

8'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat,

'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede.

9Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?

10Ek het gesien dat God aan die mens 'n taak gegee het om hom mee besig te hou. 11God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

PREDIKER 3:1-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die 23-jarige blondekop Ashley Oosthuizen het onlangs ’n hartroerende brief uit die tronk in Thailand aan haar geliefdes geskryf. Sy is vir 33 jaar tronk toe gestuur nadat sy in 2020 by ’n restaurant in Thailand in hegtenis geneem is nadat sy vir die ontvangs van ’n pakkie (waarin dwelms was) geteken het. Dit was aan ’n vriend van die eienaar geadresseer. Ashley ontken stééds dat sy geweet het wat in die pakkie was.

In die brief reken Ashley dat sy soms voor ’n afgrond staan en wonder hoe sy deur hierdie moeilike seisoen van haar lewe gaan kom. Wat haar in dié oomblikke help, is om na binne en na Bó te kyk terwyl sy weet: “Niks is ooit permanent nie.”

Ashley is reg. Geen goeie seisoen hou vir ewig. Net so hou geen slegte seisoen vir ewig nie. In Prediker 3:1-11 lees ons: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek … ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans … God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd…” (1983-vertaling)

Die geheim om hoop te alle tye (goeie en slegte) in ons harte te behou, is om na binne en na Bó te bly kyk. Ons kyk na binne om te verhoed dat negatiwiteit soos onkruid binne ons harte begin groei wat ons geloof wil uitwis en ons kyk na Bó om onsself te herinner dat God elke uitdagende situasie in iets mooi kan omdraai.

Mag ons die week onthou: Niks is ooit permanent nie. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek weet dat U tyd in u hande hou. Help my asseblief om in elke seisoen te onthou dat niks ooit permanent is nie. Beskerm my hart en help my om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS