Bible Society of South Africa

Daar is 'n tyd vir orde skep in my lewe! - 10 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

PREDIKER 3:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

5'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak,

'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af,

PREDIKER 3:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer is daar ‘n tyd om klippe weg te gooi? Wel, Dawid het so ‘n tyd benut om Goliat aan te spreek … Om klippe weg te gooi, is om tyd te vat om orde te skep in jou lewe. In daardie Bybelse tye het jy dalk ‘n nuwe stuk grond gekoop. Jy wil graag vir jou ‘n wingerd of ‘n saaiboerdery aanplant. Om dit reg te kry, moet die grond voorberei word. Daarom moet jy eers al die klippe uit die pad uit kry. Dit vra harde werk en baie sweet. Eers gaan jy die groot rotse wat beweegbaar is, uit die pad probeer rol. Dan werk jy aan die kleiner rotse, groot klippe, kleiner klippies. Totdat jy ‘n area groot genoeg skoongemaak het om te kan plant wat jy graag wil. Hierdie beeld werk mos op baie terreine van ons lewe. As jy ‘n droom wil bereik, of ‘n taak het wat jy moet afhandel, dan moet jy ook aandag gee aan al die hindernisse en uitdagings. Dit gaan nie vanself weg nie, iemand moet dit doen. Daar is ‘n tyd om van die klippe in jou land ontslae te raak, sodat jy kan plant en groei.

Maar so is daar ook ‘n tyd om klippe bymekaar te maak. In die Ou Testament lees ons van ‘n hele paar klipstapels (altare), plekke waar mense klippe op ‘n hoop gepak het om te onthou dat die Here daar vir hulle gesorg het. Een so ‘n voorbeeld is in Josua 4:1-9 waar die volk van die Here die Beloofde Land binnetrek. Klipstapels kan ‘n mens herinner: ons was hier, en die Here het hier vir ons gesorg.

Dis mooi om in party plekke van die wêreld te sien hoe geslagte lank op dieselfde grond vir hulle klipmure rondom hulle landerye gepak het. Dit wys hulle grense aan, en beskerm hulle skape teen die jakkalse. Mense het groot klippe bymekaar gemaak om vir hulle huise en piramides te bou wat vir eeue en millenia kan hou. Wanneer jy klippe bymekaar maak om te bou, dan beplan jy vir die langer toekoms. Om nie net vir jouself te sorg nie, maar ook vir die komende geslagte. Dis baie harde werk, maar die resultaat spreek van sorg en liefde. In elkeen van ons se lewe is dit nodig om te beplan vir die langer toekoms. Hoe om vir jou geliefdes te sorg, en hulle te beskerm teen die uitdagings van die tyd. Daarom bou ons op die fondament van die Rots van die eeue!

Gebed: Here, baie dankie dat U vir my die vermoë gegee het om orde in my chaos te skep. Wys vir my watter klippe in my lewe nie daar hoort nie, en gee my die krag om dit weg te gooi. Dankie dat U ook voorsien vir my toekoms. Maar help my om te beplan, en te werk aan die versorging van my geliefdes, terwyl ek op U versorging bly vertrou. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS