Bible Society of South Africa

Groei: Bied jy koelte vir ander? – 23 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

31Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. 32Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.”

MARKUS 4:31-32AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons gesin woon op die rand van ’n groot bewaringsgebied, ’n groen strook met dammetjies en enorme bloekombome wat al baie oud moet wees. Behalwe vir die bloekombome is daar ’n wye verskeidenheid bome en bosse in die park en tarentale vergader gereeld onder van die bome.

Laatmiddag, wanneer ek en my man op ons stoep sit en uitkyk oor die park, sien ons hoe groot swerms voëls soos pyle verbyskiet, op pad na hul neste in die hoë bome. En soms, laatnag, as ek wakker lê (hoofsaaklik weens die pajamadril) hoor ek ’n uil roep.

In hierdie gelykenis in Markus verduidelik Jesus hoe dit sal wees wanneer God koning is. Hier kry ons die wonderlike prentjie van ’n reuseboom wat ’n tuiste is vir al die voëls, net soos die bome in die bewaringsgebied.

En is bome nie net wonderlik nie? Behalwe dat die takke vir voëls en baie ander diertjies blyplek bied, verskaf baie bome ook kos in die vorm van sade of vrugte. Dan is daar natuurlik die wonderlike koelte teen die warm son. (Terloops, kos smaak vir my natuurlik veel lekkerder as ’n mens dit in die skadu van ’n groot boom kan eet. Dis hoekom ek gek is na pieknieks.)

Vroeër die week het ons gelees dat ons bome moet wees wat goeie vrugte dra. Moet ons nie ook bome wees wat vir ander mense koelte bied nie? ’n Veilige plek, ’n rusplek, al is dit net tydelik. As God se kinders kan ons met ons woorde en dade ’n verskil maak en vir mense verligting bring wanneer dit nodig is.

Gebed: Here, dankie dat ons na die natuur kan kyk om te probeer verstaan hoe wonderlik u koninkryk en liefde is. Help my om soos ’n boom, skadu te bied vir mense wat dit nodig het, sodat hulle ook u liefde en goedheid deur my kan beleef. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS