Bible Society of South Africa

Groei: Omarm die seisoen – 24 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

16Dit is U aan wie dag en nag behoort,

U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,

17U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;

somer en winter is die werk van u hand.

PSALMS 74:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke middag, wanneer ek huis toe ry, kyk ek vir die wingerd op die bult naby ons huis. Die lowergroenblare het die afgelope paar weke stelselmatig begin verkleur. Daar is nog baie groenigheid maar die oranje en bruin skakerings raak al meer sigbaar. Daar is ook ’n nuwe koeligheid in die lug, veral in die oggend en die aand, selfs al is die dae nog meestal lekker warm. Die seisoene verander mos stelselmatig en teen die tyd wat jy besef die lug en lig lyk anders, is jy reg in die middel van ’n volgende seisoen.

Net so beleef ons as mense ook mos verskillende seisoene in ons lewens – en daar is dikwels veel meer as net vier. Sommige seisoene is uitdagend en ’n tyd van hartseer. Sommige seisoene is voorspoedig en vreugdevol. Tydens een seisoen is jy dalk gefokus op jou loopbaan, maar met ’n volgende lyk jou prioriteite anders. Dalk is jy in ’n seisoen waar jy moet afskaal en dinge rustiger moet vat.

Die ding met die seisoene in ons eie lewens is dat dit jou ook so stil-stil kan bekruip. Teen die tyd dat jy agterkom dinge het begin verander, besef jy jy is wraggies in ’n heel nuwe seisoen.

Wanneer ek vir die wingerd teen die bult kyk, besef ek wel een belangrike ding: Die wingerd lyk in die herfs anders as in die winter en in die somer en lente lyk dit ook weer anders. Tyd staan nie stil nie en die bedrywighede in die wingerd ook nie. Daar is altyd iewers ’n gewerskaf – die aard van die werk is net anders. En die wingerd hou aan om te groei.

Net so kan ons ook aanhou om deur al die verskillende lewensfases, die verskillende seisoene in ons lewens, te groei. Veral as ons die pad saam met ons Vader stap. Hy het immers die seisoene gemaak en Hy weet ook watter seisoene jy in jou persoonlike lewe moet trotseer. Hy sal vir jou die insig en wysheid gee vir elke seisoen, solank jy dit van Hom vra.

Ek glo ons moet daarom elke seisoen probeer omarm, selfs die kouer, moeiliker seisoene. Ek glo dit maak ons sterker en dit help ons weer om in die warmer, makliker seisoene, te blom.

Gebed: Vader, lei my asseblief deur die lewensfase waarin ek my bevind. Help my om dié seisoen in my lewe te omarm en as u kind en gelowige, aan te hou groei. Ame

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS