Bible Society of South Africa

Groei: Watter soort vrugte dra jy? – 22 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

'n Boom word aan sy vrugte geken

33“As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken.

MATTEUS 12:33AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is eintlik nogal skrikwekkend as jy Matteus 12:33-37 lees. In die gedeelte lees ons hoe die dinge wat jy sê, wys wat in jou hart is. Boonop staan daar in vers 36 dat ons elkeen vir God sal moet antwoord oor alles wat ons gesê het, veral die dinge wat nié reg is nie.

Kyk, die hemel en om eendag by God te wees, klink absoluut wonderlik. Maar die idee om aan God te moet verduidelik hoekom ek geskinder het oor ander, of onregverdige en soms gewoon lelike dinge oor ander mense kwytgeraak het, is wel … nié so wonderlik nie. Inteendeel, die idee daarvan maak my skoon angstig. Dis hoekom dié gedeelte my regtig laat dink.

As jy weet jy gaan eendag van elke gesprek moet rekenskap gee, hoe sal jy dit benader? As jy weet niks wat jy sê is “off the record” nie?

Die waarheid is, ek wil nie ’n boom wees wat slegte vrugte dra nie. Ek wil ’n boom wees wat goeie vrugte dra – die soort vrugte wat mense met die hand uitsoek. En as mense daardie heerlike vrugte proe, moet hulle weet waar dit vandaan kom.

Dis ’n hoë eis – om ’n goeie boom te wees wat gedurig goeie vrugte dra. Ek glo wel God sal dit nie van ons vra as Hy nie glo ons kan dit regkry nie. En ek glo, as ons daarna streef, sal ons eendag, wanneer ons by God is, die vrugte pluk.

Gebed: Vader, help my om te dink voor ek praat en optree. Ek wil graag soos ’n boom wees wat goeie vrugte dra. Help my om goeie dinge te doen en mooi goed te sê. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS