Bible Society of South Africa

Hy versterk ons – 6 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

29Hy gee die vermoeides krag,

Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,

selfs manne in hulle fleur struikel en val,

31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie.

JESAJA 40:29-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

1992. Olimpiese Spele. Barcelona. Voor 65 000 toeskouers het Derek Redmond vir die 400 m semi-finaal aangetree. Hy was een van die gunstelinge om dié uitdun te wen – 175 m voor die einde van die wedloop het hy egter sy dyspier verrek. Binne sekondes was hy in pyn op die grond.

Alhoewel die mediese personeel met ’n draagbaar nader gehardloop het, het Derek opgestaan en hop-hop na die eindstreep begin beweeg – vasberade om die wedloop te voltooi.

In dié oomblik het ’n man met die trappe van die pawiljoen afgehardloop, deur die sekuriteit gebreek wat hom probeer keer het, terwyl hy skree: “Julle gaan my nie keer nie. Derek is my seun en ek gaan hom help.”

Op die baan het Jim Redmond sy arm om sy seun geplaas en saam het hulle die wenstreep oorgesteek – met ’n staande toejuiging van die skare.

Ek huil elke keer as ek die video kyk (sien skakel onder). Vir my simboliseer dit God se Vaderhart vir ons in moeilike oomblikke. In 2 Korintiërs 12:9 sê Hy: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Ook in Jesaja 40:29,31 lees ons: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. … dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (Tekste: 1983-vertaling)

Aan die einde van ons krag en vermoëns versterk God ons. Hy bemoedig ons en gee ons krag om met arendsvlerke te vlieg. Mag ons dit hierdie week opnuut ervaar. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my versterk wanneer ek swak of moeg is. Help my asseblief in die week wat voorlê om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS