Bible Society of South Africa

God se tydlose perspektief - 7 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

2 PETRUS 3

8Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

2 PETRUS 3:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

In 2 Petrus 3 praat die apostel Petrus met gelowiges wat begin wonder het hoekom Christus nog nie weer gekom het nie en hoekom God se beloftes nog nie vervul is nie. Hy herinner hulle daaraan dat God se perspektief van tyd heeltemal van hulle s’n verskil.

In Petrus se woorde vind ons steeds ‘n tydlose waarheid. In ‘n wêreld wat onmiddellike bevrediging en vinnige resultate verlang, mag ons vind dat ons God se tydsberekening in verskeie aspekte van ons lewe bevraagteken – of dit nou is dat ons wag op gebedsverhoring, na geregtigheid verlang of na die wederkoms uitsien. Soos die vroeë Christene wonder ons miskien ook hoekom God die vervulling van sy beloftes uitstel.

Petrus herinner ons egter daaraan dat God bo ons menslike begrip van tyd handel. Hy het ‘n ewigheidsperspektief en sy tydsberekening is volmaak. God is nie stadig om sy beloftes te vervul nie. Dit wat ons as ‘n vertraging sien, is in werklikheid eerder geduld en genade wat Hy aan ons bewys.

God se uiteindelike begeerte is dat almal hulle bekeer en gered word. Die feit dat Christus se wederkoms nog nie plaasgevind het nie, beteken nie dat God nie omgee of onaktief is nie, maar eerder dat Hy aan elke mens die geleentheid wil gee om Hom in geloof te vind. Sy geduld getuig van sy liefde en genade.

Terwyl ons op Christus se wederkoms wag, laat ons daarna streef om die evangelie te verkondig en moedig ons geloof uit te leef. Kom ons bid ernstig vir diegene wat nog nie vir Jesus ken nie, want ons weet dat dit God se begeerte is vir hulle om gered te word.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u volmaakte tydsberekening en vir u geduld met ons. Help ons om u volmaakte plan te vertrou, veral wanneer ons sukkel om te wag. Terwyl ons op Christus se wederkoms wag, skenk aan ons vertroue in u beloftes en die moed om ons geloof uit te leef. Gee dat u liefde ons sal aanspoor om die evangelie met ander te deel sodat hulle gered kan word en u genade kan beleef. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS