Bible Society of South Africa

'n Miswolkie in tyd - 6 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

JAKOBUS 4

Afhanklikheid van God

13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

JAKOBUS 4:13-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag se teksvers spreek ‘n algemene menslike neiging aan: die veronderstelling dat ons ons lewens kan beplan sonder om God se soewereine wil in ag te neem. Die teks herinner ons ook daaraan dat die lewe kort is. Jakobus vergelyk die lewe met ‘n miswolkie – vir ‘n kort oomblikke sigbaar en dan verdwyn dit weer.

Dit is ‘n menslike neiging om planne te beraam sonder om die broosheid en onvoorspelbaarheid van die lewe in ag te neem. Dit is maklik om elke dag vasgevang te word in ons planne en doelwitte – loopbaanmikpunte, finansiële sekuriteit, persoonlike prestasies. In ‘n wêreld waar beplanning, produktiwiteit, prestasies en selfgenoegsaamheid voorop gestel word, herinner Jakobus ons aan ons beperkte kennis en vlietende bestaan. Hy ontmoedig nie beplanning en ambisie nie, maar hy spoor ons aan om alles in ‘n nederige erkenning van God se soewereiniteit te doen.

Ons planne moet volgens God se wil wees, en ons moet erken dat Hy alleen die toekoms ken en ons lewens in sy hande hou. Hierdie perspektief behoort ons nederig te stem en ons te help om in alles wat ons beplan, sy leiding te soek.

Dink vandag ‘n bietjie na oor hoe jy jou tyd en hulpbronne bestee. Gebruik jy dit so dat God daardeur verheerlik word? Belê jy in ‘n ewige skat eerder as in tydelike wins? Laat Jakobus se woorde jou inspireer om met ‘n ewigheidsperspektief te leef, om die koninkryk van God bo alle aardse doelwitte te stel.

Laastens, gryp die waarheid aan dat ons lewens in God se hande is. Vertrou Hom met jou toekoms, want Hy het jou lief en Hy het ‘n doel met jou lewe. Gee jou planne elke dag aan Hom oor en soek sy wil bo alles.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons daaraan herinner dat ons lewens in u hande is. Help ons om op u almag te vertrou en om u wil vir al ons planne en ambisies te soek. Gee dat ons deur ons lewens U sal verheerlik en dat ons volgens u wil sal leef. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS