Bible Society of South Africa

God se seën - 7 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

22Dit is die seën van die Here wat rykdom bring;

jou geswoeg laat dit nie meer word nie.

SPREUKE 10:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Arbeid adel. Arbeid dra vrug. Ons glo ons kan. Mik hoog. Almal leuses van skole uit my en my vrou se kinderdae. So het ek grootgeword. Vanaf standerd 6 (graad 8 vandag) het ek elke naweek en die meeste skoolvakansies by ‘n hardeware winkel in die dorp gewerk. As student het ek soms gelyktydig twee verskillende soorte werk gehad. Dit was nie vir my snaaks om baie hard te werk nie. My ouers het albei hard gewerk, my vriende se ouers het hard gewerk. In Spreuke word harde werk op meer as een plek geprys. Nou moet ek na dit alles uitvind hierdie spesifieke spreuk in ons teksvers sê dat harde werk niks byvoeg tot ‘n mens se rykdom nie. Is dit wat hier staan?

Dit is natuurlik nie wat die spreuk bedoel nie. Dit gaan glad nie hier oor rand en sent nie. Hierdie rykdom is iets ver kosbaarder as al my besittings waarvoor ek hard gewerk het. Die ware rykdom kan nie met dae en nagte se werk verdien word nie, inteendeel, diè rykdom is ‘n onverdiende geskenk van God.

Om God se seën elke dag te beleef is ware rykdom en selfs my beste dade dra niks daartoe by nie. Wat beteken die seën van die Here? Beslis nie dat daar nooit hartseer dinge, slegte dinge, moeilike dinge met my sal gebeur nie. God se geseëndes kry ook kanker, raak depressief, hulle kinders stel hulle teleur, hulle plase kry vir jare lank nie reën nie. God bring nie al hierdie dinge oor ons nie, dit is maar deel van die wêreld waarin ons woon, maar te midde van dit alles is Hy altyd by ons en dit is die grootste seëning. Dawid sê vir ons in Psalm 23 dat al sou hy ook in die donkerste kloof ingaan (dal van doodskaduwee volgens die 1933/1953-vertaling) sal hy nie bang wees nie. Hy weet God is by hom.

Met God se seën is ek nou reeds hier op aarde skatryk, en meer nog, ek het die ewige lewe as finale erfporsie.

Gebed: Ons prys en dank U ons Vader dat U ons elke dag skatryk maak omdat U ons baie liefhet. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS