Bible Society of South Africa

Die wat gee, ontvang oorvloedig - 8 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

25Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê.

Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.

SPREUKE 11:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

My verklarende woordeboek sê die woord “gul” beteken hartlik, vriendelik, openhartig en vrygewig. In die 1933/1953-vertaling lui die vers so: “Die siel wat seën, word versadig” en in die 1983-vertaling is dit: “Wie ‘n ander voorspoed gun …”. Die Bybel vir Almal van 2007 sê dit dalk die heel mooiste van almal: “Wanneer iemand dit goed laat gaan met ander mense…”

‘n Gulhartige persoon is iemand wat dus hartlik, vriendelik en vrygewig is, iemand wat ander mense ook iets gun. Dit is iemand wat ander graag seën en probeer om dit te laat goed gaan met hulle. Waar staan ek op die sporte van die leer van gulhartig wees? Nie altyd so maklik om te sê nie.

Ons het elkeen ‘n beeld van onsself. Ons sien onsself in al die dinge wat van ‘n gulhartige mens verwag word en dikwels is dit waar van ons, maar ongelukkig nie altyd nie. Niemand van ons is altyd vriendelik, altyd hartlik nie, veral nie altyd vrygewig nie. Al sal ons dit nooit erken nie, gun ons ook nie altyd ander alles nie, veral nie as dit met hulle baie beter gaan as met my nie, of dit besittings is en of dit dalk hulle kinders se sportprestasies is.

Kyk wat mis ons nie alles wanneer ons bietjie onvriendelik, bietjie afgunstig, bietjie jaloers is nie. Die spreuk sê baie duidelik dat ‘n gulhartige persoon oorvloed geniet en “wie ‘n ander se dors les, kry self ook genoeg te drinke.” Een van die mooiste dinge wat ek nog beleef het was eendag by ‘n klein kerkie in die platteland. Saam met al die lidmate het ‘n man met Rasta lokke kom sit en by sy voete het sy ou bruin hond kom lê. Mens kon sien hy was nie met aardse goed bedeeld nie. Na die diens is tee bedien en ons het elkeen ‘n bordjie met ‘n paar eetgoedjies gekry. Hy het elke dingetjie op die bord mooi in die helfte gedeel en van elke stukkie wat hy geëet het, het sy ou hond haar helfte gekry.

Ek is seker dat van almal wat daardie dag daar in die kerk was, hy die meeste oorvloed geniet het en geseënd daar uitgestap het.

Gebed: Hemelse Vader, maak my ‘n gulhartige persoon, nie dat mense my moet raaksien nie, maar dat hulle U in my optrede sal sien. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS