Bible Society of South Africa

God se plan - 26 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die vrou en die draak

1Toe het daar 'n groot teken in die hemel verskyn: daar was 'n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar.

DIE OPENBARING 12:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Met hierdie hoofstuk begin ‘n tweede hoofdeel van Openbaring. Waar die eerste elf hoofstukke grootliks gehandel het oor die uiterlike stryd tussen die gelowige en die wêreld, word hierdie stryd nou uitgebeeld as ‘n innerlike geestelike stryd. Dit gaan dus nie hier om ‘n totaal nuwe gedagte nie, maar om presies dieselfde stryd as wat in die eerste hoofstukke ter sprake is, maar nou vanuit ‘n ander hoek belig.

In hierdie visioen sien ons ‘n swanger vrou en ‘n vuurrooi draak. Die vrou is die kerk waaruit die Christus gebore sou word en die draak is die Satan wat gereed gestaan het om die koms van die Messias te verhoed. Wanneer ons hier van die “kerk” praat waaruit die Christus gebore sou word, is dit by gebrek aan ‘n beter woord. Die kerk in hierdie verband is alreeds in die Ou Testament teenwoordig. Almal wat aan God behoort, was reeds sedert die verbond met Abraham deel van hierdie “kerk”.

Reeds van die begin werp die Bose dan ook allerlei struikelblokke in die pad om te probeer verhoed dat die Messias gebore word. Slawerny in Egipte, ballingskap in Babilon en die verhaal van Ester waar Satan die totale uitwissing van die verbondsvolk beplan het. Na die geboorte kry ons Herodes se poging om die seuntjie te laat doodmaak asook die versoeking in die woestyn. Veral het Satan gedink dat met Jesus se kruisdood sy planne finaal sou slaag, min wetend dat sy planne hier finaal skipbreuk sou ly. In die visioen sien ons “Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe.” (Openbaring 12:5)

Jesus loop die pad vanaf geboorte tot kruis, maar oorwin dit alles deur die opstanding uit die dood en word dan deur die hemelvaart verhef tot God en sy troon. Deur talle probeerslae en deur baie eeue kon die Satan nie daarin slaag om God se plan tot redding van die mensdom te verhoed nie.

Gebed: Ons dank U dat U almagtig is en verhoed het dat Satan u plan vir die redding van die wêreld gedwarsboom het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS