Bible Society of South Africa

Die kerk word vervolg - 27 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

13Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het.

DIE OPENBARING 12:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Volgens die visioen was daar na die gebeure waarna ons gister gekyk het oorlog in die hemel en Satan en sy trawante is uitgewerp. Toe dit gebeur, het Satan sy plan verander en omdat hy nie die kind self kon vernietig nie, val hy die moeder, dit is die kerk van Christus, met groot woede aan. Hiervan kan ook die kerk van die 21ste eeu wel deeglik getuig.

Eers probeer Satan om die ontstaan van die kerk in die kiem te smoor. Daar is die vervolging van die Christene deur hulle eie volksgenote, onder andere Paulus voor sy bekering. Mettertyd kom die vervolging van die Romeinse owerhede by, maar hierdie vervolginge het nie die gewenste uitwerking nie. Die kerk, soos ons in Handelinge kan sien, groei aanvanklik stadig, maar dan al vinniger en in al hoe meer stede en lande. Wanneer Satan sien dat die letterlike vervolging nie slaag nie, begin hy met ‘n nog gevaarliker taktiek, ‘n taktiek wat nog elke dag gebruik word.

‘n Magdom valse leerstellings, versoekings, en onwaarhede word versprei en dit duur vandag nog voort. Lees maar Paulus se briewe asook ons moderne tyd se koerante en ander nuusbronne en ongelukkig soms selfs kerke en gewaande Christene se uitsprake oor Bybelse waarhede. In Openbaring 12:15 word dit baie mooi uitgebeeld: “Die slang het toe ‘n stroom water soos ‘n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word.” Soms lyk dit werklik asof die kerk deur hierdie stroom onwaarhede meegesleur sal word totdat sy in die wêreldsee verdwyn, maar ons weet dit sal nie gebeur nie, want God bly sorg vir haar. Lees maar gerus vers 16.

Omdat Satan besef dat hy nooit die kerk sal kan vernietig nie, val hy volgens Openbaring 12:17 die lidmate van die kerk individueel aan. Dit is waar ons vandag staan. Laat ons dan maar vashou aan wat Paulus in Romeine 8:38 skryf: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Gebed: Onse Vader, ons weet die Bose probeer ons elke dag oorreed om die verkeerde pad te loop. Baie dankie dat u Woord vir ons verseker dat elkeen wat die gebooie van God bewaar nie op die verkeerde pad sal beland nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS