Bible Society of South Africa

God maak ons vry – 31 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,

dit staan op die punt om te gebeur,

julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn 'n pad,

Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

JESAJA 43:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gewalg het ek in verlede week na beeldmateriaal van ’n Kaapse besigheidsman gekyk wat sy vrou in hulle slaapkamer aanrand. Dít voor hulle 4-jarige kind wat desperaat tussenbeide probeer tree om haar ma te beskerm. Hoe gebeur so iets?

Waar ek aanvanklik woedend was, het ek later begin dink aan die sielkundige aspek agter hierdie optrede. Was hierdie man dalk self eens ’n klein seuntjie wat hulpeloos moes toekyk hoe sy pa sy ma aanrand? Het hy dalk ook magteloos probeer om die konflik in hulle huis stop te sit? Omdat hy nooit hulp gekry het om die trauma te verwerk nie, het dit wat hy eens gehaat het nou sy realiteit geword.

Ek sien dit gereeld in my werk. ’n Verwoestende patroon (verslawing, drankmisbruik, buite-egtelike verhoudings, egskeiding, aanranding) herhaal van een generasie na die volgende totdat iemand braaf genoeg is om op te staan, God toe te laat om in te gryp, hulle te bevry en die rigting van hulle toekoms (en dié van hulle nageslag) te verander.

In 2 Kronieke 16 lees ons van koning Asa wat koning van Israel word. Alhoewel sy voorgeslagte ver van God was, het hy standpunt ingeneem, afgodsbeelde afgebreek en die nasie na God laat terugdraai. Die gevolge hiervan was verrykend. Kyk maar hoe sy seun, Josafat vir God kon standpunt inneem (2 Kronieke 20).

In Jesaja 43:19 sê God: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” (1983-vertaling)

Is jy tevrede met die nalatenskap wat jy tans het? Niks is ooit “te laat” vir God om te herstel nie. Kom ons laat Hom toe om in te gryp, ons te bevry en die rigting van ons (en ons nageslag) se toekoms te verander. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir u genesende krag. Ek bring vandag (noem area) na U. Maak my asseblief vry sodat ek só kan optree dat die mense om my U kan sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS