Bible Society of South Africa

God hou die heelal in sy hande – 1 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak,

deur sy bevel al die hemelliggame.

7Hy het die seewater laat saamkom soos in 'n dam,

die groot waters op een plek opgegaar.

8Die hele aarde moet die Here vrees,

al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê,

PSALMS 33:6-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die afgelope naweek het ek en my kinders die Planetarium in Kaapstad besoek. Tydens ’n video-aanbieding oor die sonnestelsel stel die aanbieder die grootte van die sonnestelsel in perspektief. Het jy geweet dat die planeet Neptunis 57 keer groter as Aarde is en Jupiter 1 300 keer? Ook dat die son 1,3 miljoen keer so groot as ons aarde is?

Dit klink groot.

Die son is egter nie die grootste ster in ons sonnestelsel nie. Pollux is 700 keer groter as die son, Arcturus is 17 000 keer groter en UY Scuti (die grootste aan ons bekend) is 5 miljard keer so groot soos die son.

Besef ons altyd hoe groot hierdie God, die Skepper van hierdie sonnestelsel is?

In Psalm 33:6 en 8 lees ons: “Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër. … Die hele aarde moet vir die HERE ontsag hê, Hom moet al die bewoners van die wêreld vrees.” (2020-vertaling)

Dan in Psalm 33:13-14 word ons herinner dat hierdie Almagtige God bewus is van ons elkeen: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.” (1983-vertaling) Hy het ons geskep om ’n verhouding met Hom te hê. In Psalm 33:18 lees ons: “Kyk, die HERE hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde” (2020-vertaling).

God weet ook van jou. Hy sien jou raak. Sy oog is op dié wat vir Hom onsag het. Dié wat hulle hoop op sy troue liefde vestig. Sterkte.

Gebed: Vader God, dankie, dat U ons elkeen geskep het om ’n verhouding met U te hê. Help my om U vandag rondom my raak te sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS