Bible Society of South Africa

Kies vriende reg – 30 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

PSALMS 1:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

33Moet julle nie langer laat mislei nie:

“Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

1 KORINTIËRS 15:33AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Yster slyp yster,

vriende vorm mekaar.

SPREUKE 27:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Vermy negatiewe toksiese mense.” Dít is die raad vir ’n goeie lewe van Maria Branyas Morera, ’n Franse non wat onlangs as die wêreld se oudste persoon haar 118de verjaarsdag gevier het. Sy is op 4 Maart 1907 gebore, sewe jaar vóór die Eerste Wêreldoorlog.

Maria het ’n punt beet. Ons sien regdeur die Bybel hoe ons vermaan word om weg te bly van mense wat ons sleg beïnvloed en om eerder te fokus op diegene wat ’n positiewe effek op ons het.

In Psalm 1:1-2 lees ons: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” Ook in 1 Korintiërs 15:33 lees ons: “Moet julle nie langer laat mislei nie: ‘Slegte geselskap bederf goeie sedes.’” En in Spreuke 27:17 staan geskryf: “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.” (Tekste: 1983-vertaling)

Maak nie saak hoe sterk ons dink dat ons is nie, vriendskappe gaan ons beïnvloed. Kom ons kies ons vriende goed. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek U kan vra vir positiewe mense in my lewe. Help my ook om ’n positiewe geur saam met my te dra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS