Bible Society of South Africa

God is koning - 20 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

2Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand.

DIE OPENBARING 4:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nadat Johannes in opdrag van Jesus die briewe aan die sewe gemeentes geskryf het, sien hy weer ‘n visioen. Die middelpunt of kern van hierdie gesig is die troon van God as aanduiding van sy koningsheerskappy oor alles. Ons moet steeds onthou dat Openbaring veral geskryf is vir gelowiges wat in daardie tyd erg vervolg is.

Hierdie beeld van die troon met God wat daarop sit moes die lesers laat verstaan dat elke ding wat gebeur, onder sy beheer staan. Hierdie gedeelte verwys nie soseer na spesifieke gebeurtenisse aan die einde van die tyd nie. Dit is eerder ‘n tekening van die volledige verloop van die geskiedenis vanaf die hemelvaart van Jesus totdat Hy weer kom. Ten diepste is dit die verhaal van die kerk van Jesus en elke gelowige wat deel van die kerk is.

Hierdie verloop van God se pad met sy kerk word pragtig voorgestel as ‘n boekrol wat toegerol is en met sewe seëls verseël is. Sewe weet ons is die volmaakte getal. God se plan met die kerk is volledig, volmaak. Interessant is die boekrol anders as wat die gebruik was, aan albei kante vol geskryf. Dit simboliseer dat God se raadsplan met die kerk en die wêreld waarin die kerk funksioneer absoluut gedetailleer is. Niks word uitgelaat nie.

In die visioen is die boekrol egter nog vasgebind. God se raadsplan is nog verborge, mense het daar nie insig in nie. Dan sien Johannes Iemand soos ‘n Lam en dit lyk asof die Lam geslag is, dit wil sê soos ‘n offerande. Dit is die merktekens van die kruis. Dit is alleen Jesus wat die raadsbesluite vir ons kan oopmaak. Deur sy versoeningsdood kry Hy die mag om die boekrol van God se plan met sy kerk sigbaar te laat word.

Elke seël wat Hy oopmaak en die boekrol wat sodoende nog ‘n entjie afgerol word, openbaar vir ons iets van die verloop van die geskiedenis van kerk en wêreld. In hierdie geskiedenis is daar stryd, maar veral ook oorwinning soos gesimboliseer deur die wit perd met sy ruiter. Dit is Jesus wat met die evangelie van sy liefde vir elkeen van ons oorwinnend die wêreld ingaan.

Gebed: Here; help my om elke dag iets meer raak te sien van u groot plan met die kerk en ook met die wêreld. Help my ook om nie so baie kere bekommerd te wees nie. Help my om vas te hou aan die wete dat U op die troon is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS