Bible Society of South Africa

Saam met Jesus op die troon - 19 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

DIE OPENBARING 3:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

21Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

DIE OPENBARING 3:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons kom vandag by die einde van die dagstukkies oor die sewe gemeentes en sal môre begin met van die ander visioene en beloftes. Die laaste twee briewe naamlik aan Filadelfia en Laodisea, bevat van die wonderlikste beloftes wat Jesus aan sy kerk en die lidmate van die kerk maak.

Filadelfia was maar ‘n klein stad en ook die gemeente was maar klein. Tog is dit juis een van die twee gemeentes vir wie Jesus net lof het en niks negatief oor sê nie. Vir hulle het Hy ‘n oop deur gegee en al het hulle vanweë die feit dat hulle maar ‘n klein gemeente was min krag gehad, het hulle aan Jesus bly vashou. Dit is aan hierdie klein gemeente met min krag wat Jesus volgens ons teksvers ‘n baie groot belofte doen.

Die idee van ‘n pilaar as beeld van standvastigheid word graag in die Bybel gebruik. In Galasiërs 2:9 word Jakobus, Petrus en Johannes as pilare beskryf en in 1 Timoteus 3:15 noem Paulus die kerk self as die pilaar waarop die waarheid gevestig is. Nou kom Jesus en belowe aan die klein gemeente met min krag dat hulle ‘n pilaar sal wees in die tempel van God. Pilare was baie belangrik in geboue om die hele struktuur te help dra. Elke gemeente en elke lidmaat hoe klein of gering ook al, ja ook jy en ek, is belangrike pilare in God se aardse huis, sy kerk.

Laodisea, die lou gemeente. Kan daar vir hulle ook ‘n belofte wees? Ja sê Jesus, as hulle oorwin en tot bekering sou kom, is daar vir hulle ‘n wonderlike belofte. Hulle sal saam met Hom op die troon sit. Lou gelowiges kan koningskinders word en saam met Jesus regeer. Niemand val ooit so ver dat Jesus hom/haar nie kan oprig en ‘n baie spesiale plek saam met Hom op die troon kan gee nie.

Die sewe briewe is deurspek met Jesus se beloftes aan sy kerk en haar lidmate. Dit hang van ons elkeen af of ons die beloftes ook ons eie wil maak.

Gebed: Here Jesus, maak my asseblief elke dag gretig om al die baie beloftes wat U gemaak het ook vir my te laat waar word. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS