Bible Society of South Africa

God beskerm sy kerk - 22 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die twee getuies

1Toe is daar vir my 'n meetstok gegee wat soos 'n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid.

DIE OPENBARING 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om iets te verstaan van hierdie visioen van die twee getuies moet ons weer eens nie letterlik daarna kyk en dink dit gaan om twee persone wat as getuies sal optree nie. Die getuies waaroor hier gepraat word is eerder die kerk en die woord of boodskap van God aan die wêreld. In Deuteronomium 19:15 lees ons dat in ‘n regsaak daar ten minste twee persone moet getuig voordat dit as die waarheid beskou kan word. God wil dat die wêreld nooit sal kan sê; ons het nie geweet nie.

Die inleidende vers oor die opmeet van die tempel herinner aan ‘n soortgelyke handeling in Esegiël 40, maar waar dit in Esegiël gaan om die grootsheid van die tempel aan te dui, gaan dit hier in Openbaring meer oor afgrensing en beveiliging. Die beeld in Sagaria 2, waar daar ook ‘n persoon is wat Jerusalem afmeet, is hier meer ter sprake, veral waar ons in Sagaria 2:5 lees: “Die Here sê: Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

Om die kerk in ‘n vyandige wêreld te bemoedig, wys God dat die heiligdom en altaar en die wat daar aanbid, deur die afmeting daarvan afgesonder en beskerm word. Dit is duidelik dat dit hier om ‘n geestelike tempel gaan, want die fisiese tempel was in die tyd toe die Openbaring geskryf is al lankal (70 n.C.) verwoes. Lees ‘n mens 1 Korintiërs 3:10 en ook Efesiërs 2:20 waar Paulus die gemeente aandui as die gebou van God, is hierdie tempel van Openbaring ‘n beeld van die kerk en haar lidmate.

Vir 42 maande (die volmaakte getal van God is sewe en die getal van die wêreld is ses en vermenigvuldig met mekaar is dit dan 42), dit wil sê die volle tydperk van God se handeling met die wêreld sal die kerk en die gelowiges bewaar en beskerm word. Ons is dus veilig en hoef vir niks in die wêreld bang te wees nie.

Gebed: Ons prys U omdat U ons as kerk, maar ook elkeen van ons as individue, wil beskerm teen die aanslag van die wêreld. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS