Bible Society of South Africa

Hoor jy sy stem? – 2 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

LUKAS 10:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee

8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

1 PETRUS 5:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek ontvang verlede week ‘n e-pos van ’n leser met die vraag: “Benescke, is dit normaal dat ek as Christen deur moeilike tye gaan? Dit lyk soms vir my asof die lewe baie makliker vir ander Christene is. Doen ek iets verkeerd?”

Die waarheid is dit: Die lewe is hard. Ons leef in ’n gebroke wêreld. Is dit God wat die slegte dinge laat gebeur? NEE. Hy is ’n goeie God. Ons het egter ’n vyand, Satan, wat daarop uit is om te steel, slag en verwoes. Hoekom?

Satan was in ’n stadium ’n prominente engel in die hemel. Hy was naby aan God. Met tyd het Satan egter begin dink dat hy belangriker as God is. Sy hoogmoed het sy ondergang beteken en hy is uit die hemel gewerp (Jesaja 14, Lukas 10:18).

God het hierna die mens geskep om ’n verhouding met ons te hê. Dít moes Satan met geweldige jaloesie gevul het omdat hy weet dat hy dit nooit weer naby aan God sal kan wees nie. Juis hierom stap Satan daagliks rond soos ’n brullende leeu op soek na maniere om ons aan te val en seer te maak (1 Petrus 5:8-9).

So, is dit “normaal” dat die lewe van tyd tot tyd uitdagend is? Ja. Jesus het ons hierop voorberei. In Johannes 16:33 sê Hy: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Ook in Lukas 10:19 sê Hy: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” (Tekste: 1983-vertaling)

Sonde en hartseer was nooit deel van God se plan vir ons nie. Toe Adam en Eva sondig, het God nie sy rug op ons gekeer nie. Uit liefde vir ons was Hy bereid om sy enigste Seun vir ons op te offer. Jesus se kruisdood het ons vrygemaak van die houvas van sonde en ook aan ons die outoriteit gegee om oor Satan te heers. Met Jesus se hemelvaart het God nog ’n stap verder gegaan en vir ons die geskenk van sy Heilige Gees as Trooster en Helper gegee. Nou kan ons daagliks God se stem duideliker hoor en sy teenwoordigheid ervaar.

Mag ons in uitdagende tye ons vrede in Jesus vind. Hy het reeds die oorwinning behaal en ook aan ons die outoriteit gegee om vreesloos te leef. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir die geskenk van u Heilige Gees. Vul my asseblief vandag opnuut met u Gees en help my om u stem duidelik te hoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS