Bible Society of South Africa

God die Vader - 6 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

EKSODUS 33:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

My vyfjarige kleinseun noem sy pa “Dadda”. Wanneer hy daardie naam gebruik, is dit soms omdat hy iets wil hê, hulp nodig het, sy toon gestamp, iets wil vra of sommer uit liefde. So is daar in elke taal ‘n naam vir hierdie persoon met wie jy ‘n noue band het. Vir baie van ons is daar positiewe eienskappe in die naam opgesluit – liefde, vertroue, vrede, troos, voorsiener, ens. Ongelukkig is dit nie vir almal so nie. In baie gevalle is dit ‘n negatiewe woord.

Ons Christene bely dat ons in God, die Vader, glo. Dit is belangrik om te besef dat ons Vader onveranderlik is. “Ek, die Here, het nie verander nie …” (Maleagi 3:6) en ons moet weet wie Hy is.

Ons teksvers vir vandag getuig dat God nie ‘n afwesige Vader is nie. Hy is altyd by ons. Ons kan Hom nie volgens al die aardse pa’s, teenwoordig of nie, beoordeel nie. Hy is altyd daar en gee vrede.

Hy is ook die Voorsiener. In hierdie gesprek met Moses sê die Here: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen …” (Eksodus 33:17a) Is dit nie wonderlik dat ons nie net vir ons Vader kan vra wat ons hoop Hy sal voorsien nie, maar dat Hy weet wat ons benodig. Reg nou voorsien Hy vir jou en my.

Die Here sê ook hoekom Hy vir Moses sal voorsien. “Ek is jou goedgesind …” “Ja,” hoor ek jou sê, “maar dit is Moses. Hy was darem ‘n groot leier, ‘n godsman.” Lees die goue kalf-verhaal in Eksodus 32 en kyk wat Moses se volgelinge gedoen het. Hulle maak vir hulle ‘n goue kalf om te aanbid. Skoon vergeet van God. En tog sê die Vader vir Moses dat hy guns gevind het in sy oë. Ons wêreld is ook ‘n gemors, maar God sê dat ons, sy kinders, steeds guns in sy oë vind.

Verder die versekering dat Hy in Moses, en in elkeen van ons, belangstel want Hy sê: “… Ek ken jou op jou naam.” (Eksodus 33:17) As kind het ek die telefoonboek vir ure bestudeer om te kyk hoeveel mense met my van in die lyste vir die verskillende dorpe voorkom. Ons Vader benodig nie ‘n telefoonboek nie. Hy ken elkeen van ons by die naam en Hy sê selfs elke haar op ons koppe is getel. (Lukas 12:6-7)

Ek glo in God die Vader – ‘n teenwoordige Vader wat vrede en troos bring, ‘n Voorsiener in wie se oë ek guns gevind het, ‘n Vader wat my by die naam ken.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my ken. Help my om U elke dag beter te leer ken. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS