Bible Society of South Africa

God die Vader (2) - 7 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.

EKSODUS 34:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

In hierdie teksvers openbaar die Here vyf meer van sy karaktereienskappe aan Moses, maar ook aan ons, want ons God is onveranderlik.

Hy is barmhartig. Ons God is nie ‘n koue persoon wat meganies liefhet nie. Hy is ‘n God met emosie, met gevoel. Daarom bewys Hy uit die diepte van sy hart meegevoel met ons. Hy gee om en sorg vir ons. Verder is Hy ‘n genadige God. Mense, selfs jou familie en vriende, oordeel maklik. Miskien is die klere wat jy dra nie goed genoeg nie, volgens hulle het jy benede jou stand getrou, jou werkgewer voel jy bring nie jou kant nie al werk jy hoe hard. Ons God behandel ons nie so nie. Hy skenk aan ons deur sy genade en sonder dat ons dit verdien sy beste. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie … ” (Efesiërs 2:8-9a)

Ek is van nature ongeduldig en dit het my al baie keer in die moeilikheid laat beland. Ek weet ook deur my ongeduld maak ek soms mense seer. Hoe wonderlik om te weet ons God is “geduldig en oorvloedig in troue liefde” (Psalm 103:8) God ken ons swakhede (my ongeduld onder andere) en Hy help ons daarmee. Ons God is ook ‘n God van liefde. Diep binne in elkeen van ons is daar die begeerte na liefde. Ons soek dit oral en vind soms iets daarvan. Ware, ewigdurende liefde kan ons egter slegs in God vind, want Hy is liefde. Lees gerus wat Johannes in 1 Johannes 4:7-10 oor die lewe in die liefde van God skryf.

God het aan Moses gesê dat Hy getrou is. Dink ‘n bietjie daaroor want dit geld steeds vir ons. Ons God se aandag word nie afgetrek nie, Hy gaan nie gou vir ‘n rukkie weg of raak verveeld met ons nie. Hy het beloof dat Hy vir ewig by ons is. “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20)

Ek glo in God die Vader – ‘n barmhartige en genadige Vader, geduldig, liefdevol en getrou.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my met al my swakhede onvoorwaardelik liefhet. Amen

 

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS