Bible Society of South Africa

Ek glo in God ... (2) - 5 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.

ROMEINE 4:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het Paulus ons daarop gewys dat Abraham geglo het in ‘n magtige Persoon wat “dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord”. (Romeine 4:17) Abraham het ook toe daar klaarblyklik nie meer hoop was nie, steeds bly hoop en glo.

Uit Abraham se geloof leer ons dat geloof nie feite ignoreer nie, maar objektief daarna kyk. “Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.” (Romeine 4:19) Ons ondervind ook dikwels probleme in ons lewens en soms spat ons drome aan skerwe. Miskien het jy nie die belangrike pos by die werk gekry nie, miskien beleef jy huweliks- of finansiële probleme of jou kind is ongelukkig by die skool. Wat ook al, kyk objektief na die feite en gee dit in geloof oor aan God.

Romeine 4:20 sê die volgende: “Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk … ” Abraham en Sara het nie moderne hulpmiddels gehad nie, hulle moes maar net geduldig, 13 jaar lank, wag vir God om sy belofte te vervul. Ten spyte hiervan is Abraham in sy geloof versterk. Geloof is nie iets wat ons net kry en dan bly dit vir altyd dieselfde nie. Geloof groei. Ons kan ook, soos Abraham, God vertrou om ons geloof elke dag te versterk.

Soos Abraham geglo het dat God kan doen wat Hy beloof het, moet ons ook vashou aan sy beloftes. God het vir ons die Bybel gegee waarvan die bladsye wemel van beloftes wat Hy aan sy kinders (dit is nou ek en jy) gemaak het. Dit is belangrik dat ons sy woord bestudeer en ons eie maak, soos Esegiël wat die boekrol moes eet en toe gesê het: “… Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.” (Esegiël 3:2b)

Abraham leer ons ook om dankbaar te wees vir ons geloof en die Here daarvoor te prys. Alhoewel hy steeds gewag het op die geboorte van sy kind, het hy reeds ” … aan God die eer gegee.” (Romeine 4:20). Kom ons dank God vir geloof, dat ons kan sê: “Ek glo!”

Gebed: Here, dankie dat ons met oorgawe kan sê dat ons glo. Dankie vir u woord en help ons om dit te “eet” sodat ons geloof kan groei. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS