Bible Society of South Africa

God die Skepper - 12 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

God se skeppingswerk

1In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

Woensdae stap ek saam met vriende. Soms wanneer ons in stilte deur die bos stap, sing my hart uit dankbaarheid teenoor die Skepper wat al die mooi om my gemaak het. Hoe presies weet ek nie.

In die begin het God … Hierdie woorde impliseer dat God reeds daar was, met ander woorde voordat Hy ruimte, materie en tyd geskep het, het Hy reeds bestaan.

Lees ons die Genesis-verhaal is dit duidelik dat in die begin alles vormloos was totdat God daaraan vorm gegee het. Die hemelruim is in plek geplaas en so ook die waters onder die hemel. Eers nadat Hy vorm aan alles gegee het, het Hy lewe gegee. Hy het plante, visse en diere gemaak. Daar is verskeie skeppingsteorieë (onder andere die evolusieleer, “Big Bang”-teorie) waaroor ek my nie hier wil uitlaat nie. Vir my is die belangrikste feit in die skeppingsverhaal, God. “Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.” (Hebreërs 11:3) Die Hebreërs-skrywer gee nie vir ons ‘n wetenskaplike verklaring van hoe die wêreld tot stand gekom het nie, maar beklemtoon die rol van God.

Kom ons sê dat ons glo God het die wêreld gemaak. Wat glo jy oor jouself? Het Hy jou gemaak? In die Genesis-verhaal lees ons die mens is na sy beeld gemaak “Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld …” (Genesis 1:26a) en Hy het die mens geseën en ‘n opdrag gegee om vrugbaar te wees en oor sy skepping te heers. (Genesis 1:28).

Ongelukkig het sonde die wêreld binnegekom. Is dit die einde van die verhaal? Nee, die Bybel sê God is nie klaar met ons nie, Hy is steeds besig om te herskep. “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Korintiërs 5:17) In 2 Korintiërs 5:18-19 lees ons dat deur Christus God Hom met ons wil herversoen en dat Hy aan ons ‘n nuwe opdrag gee. “Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (2 Korintiërs 5:20)

Moeilik om te verstaan, maar ek glo in God die Skepper van hemel en aarde …

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u skepping en help ons om as u gesante daarna om te sien en dit te versorg. Help ons ook om u boodskap van versoening uit te dra. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS