Bible Society of South Africa

God die Almagtige - 11 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dat God almagtig is, is iets wat ek sukkel om werklik te verstaan. Ek aanvaar dit egter want sy woord sê dat Hy oral is (Psalm 139:7-12), dat Hy oor alle mag beskik en niks vir Hom onmoontlik is nie (Jeremia 32:17,27) en dat Hy alles weet. (1 Johannes 3:20)

Die Bybel gee ons wel ‘n kykie waartoe die Almagtige in staat is. Hy is die Een wat ons kan red en uit ons staat van verlorenheid verlos – fisies, emosioneel en geestelik. Hierdie almagtige God “… kan ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos …” (Hebreërs 7:25) God die Almagtige, gee ons krag om, deur sy genade, dinge te doen wat ons nie uit eie krag sou kon doen nie. (Lees 2 Korintiërs 9:8)

Ons lewe in ‘n wêreld vol versoekings. God wat oral is en alles weet, is ook die Een wat ons teen versoekings beskerm. In 1 Korintiërs 10:13 kry ons hierdie belofte: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”

God die Almagtige het ons nie nodig nie, maar vir ‘n rede wat net Hy weet, werk Hy in en deur ons, sy kinders. Ons is sy hande en voete hier op aarde. Paulus skryf aan die Efesiërs: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink … ” (Efesiërs 3:20)

Hy is ook die Een wat kan verander en nuut maak. Hy kan ons gees en verstand verander, en eendag gaan Hy selfs ons liggame nuut maak. “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Filippense 3:21)

Wanneer ons Jesus aanneem, is dit omdat ons besef dat ons onsself nie van sonde kan reinig nie. In Judas 24 lees ons dat Hy magtig is en sy kinders eendag, onbevlek en met vreugde, sy heerlikheid sal laat aanskou. Wat meer kan ons vra?

Ek glo in die Almagtige – Hy wat oral is, by wie niks onmoontlik is nie en wat alles weet.

Gebed: Almagtige God, ek aanbid U in nederigheid en met ‘n dankbare hart. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS