Bible Society of South Africa

Die enigste Seun - 13 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Lees Johannes 4:7-40 waar die ontmoeting tussen die Samaritaanse vrou en Jesus opgeteken is. Wie is hierdie Jesus wat die vrou daardie dag ontmoet het?

In ons teksvers vra Hy haar vir water om te drink en later sê sy dissipels vir Hom: “Rabbi, eet tog ‘n stukkie.” (Johannes 4:31) Die Bybel vertel ons ook iets oor Jesus se emosies. In Johannes 11:35 lees ons dat Jesus oor die dood van sy vriend, Lasarus, gehuil het. In Johannes 15:11 vertel Hy aan sy dissipels dat Hy hulle liefhet en dit vir hulle sê “sodat my blydskap in julle kan wees …” Hy is volkome mens wat eet en drink, huil en bly is.

Volgens die Bybel is daar ‘n vader en seun-verhouding tussen Jesus en God, die Vader. Johannes 3:16 verwys na Jesus as God se enigste Seun. Lees die bekende Johannes 1:1-3 “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God …”. Alles wat ons die afgelope dae oor God die Vader en Skepper gesê het, geld ook vir Jesus. Jesus verduidelik sy noue verbintenis met sy Vader so: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is … ” (Johannes 14:20a) In Johannes 10:30 sê Jesus: “Ek en die Vader is Een.” Die Man daar by die put was dus nie net ‘n gewone mens nie, Hy was God self.

Die Samaritaanse vrou vertel toe vir Jesus dat sy weet dat die Messias gaan kom. Jesus sê toe: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” (Johannes 4:26). In die Ou Testament is daar drie groepe wat gesalf is, profete, priesters en konings. In die Nuwe Testament word dit duidelik dat Jesus, die Messias, wat gesalfde beteken, die volmaakte Profeet, Priester en Koning is. Dit is die Messias – Profeet, Priester, Koning – wat voor haar staan.

Die Samaritaanse vrou vertel haar mense van die man by die put. Hulle het na Jesus gaan luister en baie het tot geloof gekom. Ons lees in Johannes 4:42: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” Die Man by die put was die Verlosser van die wêreld.

Het jy al gekies om die knie voor hierdie Man te buig?

Ek glo in Jesus Christus, die Man by die put in Samaria.

Gebed: Dankie Jesus dat U my Verlosser is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS