Bible Society of South Africa

God die Vader (3) - 10 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

EKSODUS 34:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek dink die meeste van ons het êrens in ons verlede iets gedoen waaroor ons skaam is. Ek vind dit dikwels moeilik en soms oorweldigend om te glo dat God my sondes wat ek bely het, vergewe en daarvan vergeet het. In Jeremia 31:34 lees ons: “Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.” As ons in ‘n God glo wat sondes vergewe en vergeet, is dit nie nodig dat ons gebuk moet gaan onder die skuld en skaamte oor dinge wat ons reeds bely het nie.

In die Bybel vertel God ons ook oor die metode wat Hy gebruik om ons sonde te vergewe. In die Nuwe Testament ontmoet ons Jesus Christus, sy Seun. die persoon wat God gestuur het om aan die kruis vir ons sondes te kom sterf. “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring …” (1 Petrus 3:18) Hoekom het God sy Seun gestuur? Want Hy is ‘n Vader vol vergifnis.

Ons teksvers vir vandag vertel ons egter dat ons Vader ‘n regverdige God is. Alles wat God doen is reg en goed, daarom kan Hy nie net sonde ignoreer nie. Jesus het gekom om vir die sondes van die wêreld te sterf, maar diegene wat hierdie liefdesdaad ignoreer en weier om dit te aanvaar, sal ongelukkig (‘n ongewilde en ongemaklike stelling) die straf en oordeel van God moet verduur.

Terug in Eksodus leer ons van Moses dat dit nie net nodig is om hierdie eienskappe oor God die Vader te ken nie, maar dat Hy ‘n reaksie van ons verwag. Na God al hierdie eienskappe van die Vader deur kragtige woorde aan hom geopenbaar het, het Moses “toe vinnig gebuig in eerbied”. (Eksodus 34:8) Kom ons gee aan Hom al die eerbied en “kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy …” (Hosea 6:3)

“Ek glo in God die Vader …”

Gebed: Hemelse Vader, help my om U elke dag beter te leer ken. Dankie dat U ‘n Vader is wat oortredings en sondes vergewe en daarvan vergeet. Dankie dat u Seun ook vir my gesterf het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS