Bible Society of South Africa

Ons beurt om te getuig - 23 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

3“Ek sal aan my twee getuies opdrag gee, en hulle sal, met rouklere aan, my boodskap twaalf honderd en sestig dae lank verkondig.”

DIE OPENBARING 11:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het ons gesien dat God sy kerk afgrens en beskerm teen alle aanslae van die wêreld. Ons kan dit visualiseer as dat die kerk veilig is binne in die ruimte van die geestelike tempel. Wie aan die kerk van Jesus Christus behoort word afgesonder om binne hierdie veilige ruimte besig te wees met die dinge van God.

Daar is egter ook ‘n ander kant van die saak. Om veilig in God se ruimte te wees beteken nie om hande gevou te sit en wag op die wederkoms nie. Afgesonder van die wêreld, maar nie geïsoleer van die wêreld nie, inteendeel die kerk, en dus elkeen van ons, het ‘n geweldige belangrike getuienistaak. In die Ou Testament het ‘n profeet wat in rouklere gekleed was gewoonlik ‘n boodskap van God se oordeel en die gepaardgaande oproep tot bekering oorgedra. Die kerk, dit is die twee getuies, se taak is dus om mense te oortuig dat hulle voor God straf verdien, maar veral dat elkeen wat tot bekering kom deur God vrygestel word van die straf.

Hierdie taak word uitgevoer wanneer die Woord verkondig word onder die krag van die Heilige Gees. Die kerk dra die Woord deur die krag van die Gees en deur die krag van die Woord en die Gees word die kerk op sy beurt beskerm. Dit is die Woord, wat hier met vuur wat uit die getuies se monde uitgaan verbeeld word, waardeur die Bose verslaan word. In hierdie konteks is die kerk en haar lidmate nie soos wat mense dikwels dink ‘n nikswerd vereniging nie, maar die kragtige instrument van God in die wêreld.

Jesus se boodskap was altyd een van liefde en vergewensgesindheid, maar hy het nooit die verantwoordelikheid om te vermaan en tereg te wys probeer vryspring nie. Dit is ook die taak van die kerk. Natuurlik moet dit in liefde gedoen word, maar ons moet nooit uit misplaaste liefde nalaat om ook te vermaan nie.

Gebed: Hemelse Vader, help my om in my taak as u getuie raak te sien waar vermaning nodig is, maar bo alles ook om raak te sien waar vertroosting nodig is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS