Bible Society of South Africa

Genade: Ook vir jouself - 10 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

NUMERI 6

24“Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

25die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

26die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

NUMERI 6:24-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dis al Oktober! Ek het sowaar al Kersfeesadvertensies gesien. Jaar ná jaar vang dit my onkant.

Hoe is dit moontlik dat nog ’n jaar so te sê verby is? Hoe kan dit wees dat die dagboeke vir volgende jaar reeds uitgepak is en die winkelsentrum gereed maak vir die Kersinkopie-stormloop? Waar is die tyd heen en wat op aarde het ek met hierdie jaar gemaak?

Dís gewoonlik die gedagtes wat deur my kop maal terwyl ek spartel om al my draaie te kry. Ek weet nie van jou nie, maar dinge begin dan net doller raak en voor ek my oë uitvee hardloop ek soos ’n afkophoender rond en probeer 265 verskillende werkdinge en huisdinge en familiedinge op dieselfde tyd doen en afhandel. En die ironie? Saam met dit alles, voel ek skuldig oor die ander 300 goed waarby ek voel ek nie behoorlik uitgekom het nie.

Haal asem. Daar is nog tyd. Prioritiseer. Maak ook seker jy het genade met jouself.

Ja, as ons daarop ingestel is om genade te hê vir ander, soos wat God ons ook genadig is, moet ons sekerlik ook vir onsself genade kan hê. Ons kan nie alles altyd perfek doen nie. Ons kan nie altyd aan die hele wêreld se vereistes voldoen nie, of hoe? En soms moet ons vir onsself sê dat dit ook okay is.

Onthou, God is ook by ons in die tye wat ons voel of ons skaars tyd het vir Hom. Dan is sy genade steeds groot én genoeg.

In elk geval, dis nou eers Oktober.

Gebed: Here, dankie dat U saam met my gaan, maak nie saak hoe erg die lewe druk en hoe besig dinge vir my voel nie. Help my om wanneer dinge rof gaan, ’n bietjie genade met myself te hê en na myself ook om te sien. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS