Bible Society of South Africa

Genade: Jip, dis ’n werkwoord - 11 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

ROMEINE 1

7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Terwyl ek die week so baie oor genade gedink het, het dit my keer op keer bygeval dat genade nie iets is wat ooit heeltemal afgehandel is nie. Dit is iets wat telkemale van voor af gebeur.

’n Mens beleef mos nie net een keer God se genade en dan is dit verby nie? Genade kom in verskillende vorme voor – in klein dingetjies en groot goed. Oor en oor. Vandag, gister, tien jaar terug, en in die toekoms.

Beteken dit nie dan dat ons ook so moet leef nie? Genade moet hê – oor en oor in klein dingetjies en groot goed? Oor en oor vir die mense wat oor ons pad kom?

Ja, in my oë is genade nie ’n eenmalige ding nie. Dis iets wat aanhoudend gebeur, iets wat jy moet probeer uitleef, dag ná dag. Iets wat elke dag oor jou pad gaan kom en deel van jou lewe gaan wees omdat jy God se kind is.

Dit beteken natuurlik dis harde werk.

Maar dink net hoe die wêreld sal lyk, as ons almal genade uitleef en dit elke dag probeer nastreef? As ons genade ’n werkwoord maak?

Gebed: Hemelse Vader, help my om genade elke dag uit te leef. Dankie vir u genade wat my keer op keer omvou en my op my lewenspad dra. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS