Bible Society of South Africa

Genade: Genade vir die mense om jou - 9 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 103

8Barmhartig en genadig is die Here,

lankmoedig en vol liefde.

PSALMS 103:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dis wonderlik, oorweldigend en absoluut verbysterend as ’n mens aan God se genade dink. God se genade is groot en dit is genoeg – al het ons niks gedoen om dit te verdien nie. Dit is terselfdertyd op ’n manier eintlik vreesaanjaend én verblydend.

En soos ek vroeër die week geskryf het, is dit ook nodig vir ons om teenoor die mense rondom ons genade te betoon. Daarom wil ek vandag daarby stilstaan.

Dis so maklik om vas te kyk in ons eie behoeftes en begeertes en alles wat óns nodig het, dat ons so maklik kan vergeet om genade te betoon teenoor ander. Ons kan so vasgevang raak in die gevoel om iemand vas te vat, of te laat les opsê omdat hulle iets verbrou het, of om iemand terug te kry vir die seer wat hulle veroorsaak het.

Tog glo ek dis dikwels beter om vir ’n oomblik te gaan stilstaan en vir jouself te vra: Hoekom? Wat wil ek bereik?

Of dit nou familie is, vriende, ’n werknemer of kollega, ’n vreemdeling wat jou verkeerd opgevryf het, of ’n geliefde wat jou onregverdig behandel – daar is altyd iemand wat ’n tikkie genade nodig het. En as God ons genadig kan wees, moet ons dit sekerlik ook probeer nastreef. Ons moet probeer, al is dit moeilik.

Gebed: Here, help my om goed te wees vir ander mense en nes U, ook genade te betoon teenoor die mense rondom my. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS