Bible Society of South Africa

Genade: Dis genoeg - 8 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 12

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek het al baie genade in my lewe beleef. Ek het ook al dikwels God se genadige hand in ander mense se lewens raakgesien.

2 Korintiërs 12:9 het nog altyd ’n spesiale plek in my hart gehad – spesifiek die volgende ses woorde soos dit in die 1983-vertaling staan: “My genade is vir jou genoeg”.

God se genade is genoeg. Dis genoeg – maak nie saak wat nie. Dis genoeg, al is jy in die donkerste, diepste doolhoof. Dis genoeg, want dis steeds daar, al voel jy soms ver van God af.

As jy mooi gaan kyk na jou lewenspad, regtig mooi gaan kyk en gaan dink oor die kronkels en draaie wat jou tot hier gebring het, glo ek jy sal gou besef dat daar ’n groot skoot genade ingeklits is. Partykeer moet ’n mens net ’n tydjie neem en daaroor gaan dink.

En ek glo, as jy mooi gaan dink oor die saak, sal jy ook gou besef dat God se genade werklikwaar genoeg was – elke keer, presies wat nodig was.

Waarom sal ons dan nog daaroor twyfel?

Ons dien ’n genadige God wat elkeen van ons ten volle ken. Hy weet wat ons nodig het en daar is genoeg genade vir elkeen. En net so is God se genade eintlik ook al wat ons meeste van die tyd nodig het. Ons moet dit nie vergeet nie.

Gebed: Vader, dankie dat u genade vir my, genoeg is – elke dag van my lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS