Bible Society of South Africa

Genade: Onverdiende guns - 7 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

HEBREËRS 4

16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

HEBREËRS 4:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons sing en praat so dikwels oor “genade onbeskryflik groot”. Maar het jy al ooit tyd geneem en gaan dink oor die betekenis van genade? Het jy al ooit regtig moeite gedoen om te dink oor die implikasies van die woord?

Een oggend vertel ek vir my vriendin by die werk hoe ek myself vroeër vir my man vervies het. Ek was sommer erg omgekrap.

My vriendin het geduldig na my hele relaas geluister. Sy het haar kop geknik en begrip gehad vir my frustrasie. En toe sê sy iets wat my twee keer laat dink het: “Ek verstaan jy is kwaad en jy mag kwaad wees. Maar hê ’n bietjie “grace” met hom.”

Daar in die kantoor se kombuis het sy raakgesien dat dit wat my ontstel het, eintlik vanuit ander frustrasies gespruit het.

Hê ’n bietjie “grace”. Toon ’n bietjie genade.

Die “Cambridge Dictionary” beskryf genade as “onverdiende guns” – iets wat nie verdien kan word nie maar vrylik uitgedeel word. Dis vir my so ’n mooi beskrywing.

Sedert daardie gesprek is ek skielik meer bewus van genade en hoe wonderlik dit is. Ek is ook bewus van hoe nodig en belangrik genade is – nie net God se geweldige genade vir ons nie, maar genade oor die algemeen.

Ons het al almal iewers onverdiende guns nodig gehad, heel waarskynlik meer gereeld as wat ons self besef.

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir U ontsettende genade. Dankie dat U oor en oor onverdiende guns teenoor my betoon. Help my om ook dieselfde te doen teenoor ander mense. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS