Bible Society of South Africa

Gelukkig wees – jy het 'n keuse - 27 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

12Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.

PREDIKER 3:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lewe was nog nooit net maklik en lekker nie. Vandat Adam en Eva by die Paradys uitgesit is, het die aarde sy dorings en distels gelewer, en die mens in die sweet van sy aangesig brood verdien. Van daardie tyd af het menseverhoudinge maar groot probleme by tye veroorsaak. Jaloesie en haat het in die wêreld vastrapplek gekry. Mense besteel mekaar, en maak mekaar seer met woorde en dade. Daarom is daar in die Bybel so baie verhale van menslike lyding, dit kom oor ons pad. Daar is ‘n hele boek van Klaagliedere en heelwat Psalms besing die lyding wat ‘n mens ken … Ons almal het ons eie kwota uitdagings in die lewe. Ons het nie altyd ‘n keuse in dit wat oor ons pad kom, of dit wat met ons gebeur nie. Dis seker maklik om in sak en as te gaan sit oor alles wat verkeerd loop in jou lewe.

Daar is ‘n beter alternatief! DIt is om op ‘n nuwe manier te begin dink. Ons het dalk geen beheer oor wat met ons gebeur nie. Maar ons het altyd ‘n keuse hoe ons dit gaan hanteer en daarop gaan reageer. Dis juis die hele punt van die Switserse Joodse sielkundige Victor Frankl se boek “Man’s Search for meaning”, geskryf vanuit sy eie aaklige ervaring in die Duitse konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog. Jy het ‘n keuse hoe jy gaan reageer op die slegste moontlike dinge wat met jou gebeur. Of jy gaan toelaat dat dit jou negatief maak en jou vernietig of jy gaan kies om beheer oor jou gedagtes en reaksies te neem, en as ‘n oorwinnnaar anderkant uit te stap.

Die hele boek van Prediker worstel met die menslike lyding in moeilike tye. In hierdie tye staan vandag se vers as ‘n baken van hoop. In jou omstandighede kan ‘n mens kies om vrolik te wees. Om die vreugde van die Here te bly beleef (Filippense 4:4) wat geen mens by jou kan steel nie. Ons kan kies om met dankbaarheid te lewe, al voel dit asof die lewe ons so min gee. Dankbaarheid is ‘n keuse om dit wat wel in jou lewe is, raak te sien en te waardeer. Jy kan sien om hierdie te lees. Jy is by jou bewussyn, jy lê nie êrens in ‘n koma nie. Hopelik het jy vandag’n bord kos in die vooruitsig. Jy slaap vanaand warm onder ‘n dak. Jy lewe, jy het gesondheid. Mag jy familie en vriende hê wat jou kosbaar ag. Die kuns van die lewe is om hierdie klein dingetjies raak te sien, en dankbaar daarvoor te wees.

As ons altyd gaan kla oor wat ons nie het nie, gaan ons nooit ons lewe geniet nie. As ons vreugde vind in die klein dingetjies, en as ons met dankbaarheid kan lewe, dan is ons gelukkige mense. Dan maak die lewe sin vir onsself, en ons maak die lewe mooi vir die mense rondom ons.

Gebed: Dankie Here, U is goed vir my! Dankie vir al die genade en seën wat ek in my lewe ontvang. Help my om op die genade en die goeie te fokus wanneer daar groot uitdagings op my pad kom. Dra my in tye van gebrek, help asseblief met vandag se brood! Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS