Bible Society of South Africa

Die kosbare gawes van God in elke dag - 28 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

13Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God.

PREDIKER 3:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here is goed vir sy kinders. Die Here weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra (Matteus 6:8). Die kuns van die lewe is om die Here se voorsiening in die klein dingetjies raak te sien.

Een van die grootste gawes is die vermoë om lekker te eet. Hierdie groot geskenk is onder groot druk deesdae. Ons het deel geword van ‘n kits wêreld. Baie mense eet dikwels wegneemkos, sommer so voor die televisie. Wanneer ons dit doen, is ons besig om die seën daarin te mis. Ons eet net om te oorleef. Ons aandag is by die televisie, nie by die kos wat vir ons voorgesit is nie. Voorheen was dit nie so nie. Daar is iets kosbaar daarin om vir jou ‘n groentetuin voor te berei. Om jou hande in die grond vuil te maak. Daar is opwinding om groentesaad te sien ontkiem, en dit te versorg tot volwassenheid. Daar is ‘n vreugde daarin om jou eie groente te oes en voor te berei vir jou geliefdes. Daar gaan soveel voorbereiding en sorg in om ‘n gesonde bord kos op die tafel te plaas. Waarom dit nie goed doen nie? Wanneer iemand so kos maak, moenie dit voor die televisie sit en eet nie! Dek ‘n tafel. Steek ‘n kers aan. Maak ‘n fees daarvan en geniet elke happie! Jy kan elke dag se etes keurig voorberei en met liefde opdien. Dit hoef nie luukse kos te wees nie! Ek het al saam met baie arm mense geëet, met eenvoudige kos wat met liefde voorgesit is. Dit was van die beste feesmaaltye wat ek nog geniet het. Liefde en sorg maak al die verskil.

Net so is selfs die water wat ons drink, nie vanselfsprekend nie. Om op ‘n Pelgrimstog ver te stap, en dan by yskoue water uit te kom, is ‘n wonderlike ervaring. Koue skoon water is ‘n gawe van God! Dink daaraan as jy dit geniet, dit gee lewe!

Die Prediker erken ons werk hard om kop bo water te hou. Dis nie altyd maklik om ‘n bestaan te maak in hierdie dae nie. Die geheim van die lewe is om te midde van al die uitdagings tyd te maak om die goeie raak te sien, en te vier. Deel jou kos met iemand anders, dien dit mooi op, en kyk watter verskil dit in jou gemoed maak!

Ook hier het ons keuses – ons kan kla oor wat ons nie het nie, of ons kan dit wat die Here ons mee seën, met dankbaarheid geniet. Onthou: “Dit gaan altyd sleg met ‘n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees!” (Spreuke 15:15)

Gebed: Here, U is vir my baie goed. Vergewe my waar ek so dikwels met jaloerse oë kyk na mense wat meer as ek het. Leer my om u goedheid in vandag se stukkie brood en in vandag se slukkie koue water raak te sien. Gee my ‘n dankbare hart. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS