Bible Society of South Africa

Geloof vir die eeue - 12 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

13Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

HANDELINGE 4:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek wonder of Petrus die dag toe hy saam met Jesus op die water geloop het as een van sy top drie buitengewone geloofservarings beskou het.

Petrus se impulsiewe geaardheid het aanleiding gegee tot verskeie ervarings, sommige wat ‘n mens laat glimlag, maar ook verskeie pynlike insidente. Hy was definitief die een met ‘n aantal indrukwekkende stories rondom die etenstafel. Hy sou onder andere kon vertel van die dag toe Jesus kom kuier het en sy skoonma van die koors genees het.

Petrus het ook gesien hoe Jesus wonderbaarlik die skares met ‘n klein bietjie voorraad gevoed het en dan was daar genoeg oorskiet om mandjies vol te vul. En wat van al die profesieë wat vervul is om nie eers van al die wondergenesings te praat nie! Sy drie jaar saam met Jesus was definitief nie alledaags nie.

Eendag het Petrus bely dat Jesus die Messias is. Daardie dag het Jesus gesê dat Hy sy Kerk op Petrus gaan bou. Op ‘n ander keer het hy Jesus se verheerliking aanskou. Toe Moses en Elia ook daar verskyn, het Petrus aangebied om vir hulle hutte te bou. Die keer toe hy gesien het hoe Jesus soos ‘n spook op die water loop was niks in vergelyking met hierdie gebeure op die berg nie.

Toe het alles skielik verkeerd geloop. Jesus is dood. Daardie verskriklike nag voor Jesus se kruisiging het hy gesien hoe Jesus arme Malgus genees nadat hy, Petrus, sy swaard uitgepluk en die man se oor afgekap het.

Hoe moes sy hart nie onderweg na die leë graf geklop het nie. Die steen voor die graf was weggerol, maar daar was geen teken van die Messias nie – skrale troos daardie dag vir sy gebroke, deurmekaar hart. Toe hulle Hom uiteindelik sien het hulle gedink Hy is ‘n gees. Wie sou kon dink die Bybel is so vol geeste en spoke.

Petrus het begin dink aan sy lewe voor Jesus en besluit om te gaan visvang. Toe Petrus hoor dat die figuur op die strand Jesus is, het hy in ware Petrus-styl sy hemp aangepluk en in die water gespring. Daar op die strand het ‘n visbraai saam met Jesus op hulle gewag.

En wat van die keer toe die engel Petrus uit die tronk bevry het. Alles deel van Petrus se ervaringe. ‘n Vol lewe of hoe? ‘n Eenvoudige mens se lewe saam met Jesus.

Gebed: Vader, dankie dat U aan ons die geleentheid gee om die lewenspad saam met Jesus te stap. Soos Petrus, Johannes en die ander dissipels, kan ons ook ‘n gewone lewe lei, maar deur ons geloof in u Seun, soms iets van die buitengewone ervaar. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS