Bible Society of South Africa

Outyds en sonder styl? - 13 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

160Op u woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat.

Al u bepalings is regverdig. Hulle staan vas.

PSALMS 119:160AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke nou en dan ontmoet ‘n mens iemand wat uitstaan bo die res. Dit is dikwels duidelik in die manier wat hulle dinge doen, of hoe hulle beweeg – hulle besit daardie aangebore, ontwykende eienskap: styl.

Die beroemde modeontwerper, Yves Saint Laurent, het op ‘n keer gesê: “Mode vergaan, maar styl is ewig.” Ek dink hy het ‘n punt beetgehad.

Ja, gras verdor, ‘n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd.” (Jesaja 40:8) Nou hoor ek hoe sommige mense onderlangs brom dat die Bybel outyds is en dit wat ons daaruit leer uit die mode. Daar word nie meer baie waarde geheg aan die woorde van die manne van ouds nie, en hoe patriargaal was hulle nie! Definitief uit die mode en nie volgens die styl van die moderne wêreld nie. Of hoe?

Ek is oud genoeg om te weet dat modes wispelturig is en dat ontwerpstyle kom en gaan. Onthou julle nog die plastiek Swatch horlosie wat so gewild was? Vandag wonder baie mense of dit die belegging werd was. Niemand sal egter waag om so ‘n vraag oor ‘n Rolex te opper nie – die tydlose kwaliteit daarvan word definitief nie bevraagteken nie.

Dit is ook waar van die Bybel. In die Psalmboek sê koning Dawid dat dit kosbaarder as goud is. Dit is egter waar dat om volgens die Woord te leef, kom met ‘n prys – ‘n mens se hele lewe. Soms veroorsaak dit vervreemding van diegene vir wie jy lief is. En tog, diegene wat kies om die Bybel te aanvaar en daarvolgens te leef, staan uit in hierdie wêreld. Dit is sigbaar in die manier wat hulle praat, doen en God verheerlik.

Om jou lewe neer te lê ter wille van die evangelie en vir ‘n plek saam met God in die ewigheid, is miskien vir sommige ‘n te hoë prys om te betaal. Dit is regtig baie makliker om net die jongste giere en neigings te aanvaar. Die duiwel is ook altyd bereid om goedkoop namaaksels van die oorspronklike beskikbaar te stel.

Die Bybel behou egter sy styl. Hierdie Boek het die toets van die tyd deurstaan en is steeds ‘n topverkoper. Sy voorskrifte bly immergroen en het reeds keer op keer bewys dat hulle waar is. Psalm 119:160 stel dit soos volg: “Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig.”

Die tydlose wysheid van die Bybel bly ‘n kompas vir gelowiges op hulle pad na die ewigheid. Die Bybel is baie direk en draai geen doekies om nie. Die lewens van diegene wat gekies het om dit te verwerp, word dikwels gekenmerk deur die pyn en rigtingloosheid wat die sonde bring.

Is die woord van God belangrik vir die ewigheid? Ja, dit is absoluut die moeite werd om te aanvaar en te glo! Is dit stylvol? Definitief.

Gebed: Here, help ons om die woord van God te eer en as betroubaar en waar te aanvaar. Gee dat ons altyd sal probeer om die voorskrifte daarin te gehoorsaam. Help ons ook om altyd die lig te skyn in ‘n wêreld wat dringend die waarheid van u Woord nodig het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS