Bible Society of South Africa

Die belofte van die Heilige Gees – 6 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Die Heilige Gees sal by julle bly

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

JOHANNES 14:15-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus is besig om sy dissipels voor te berei op sy naderende dood. Dis juis gepas om hierdie woorde vandag te lees, Jesus het dit die aand voor sy kruisiging met hulle gedeel, en more vier ons Goeie Vrydag. Jesus het geweet Hy sou opstaan uit die dood, en daarna moes terugkeer hemel toe.

Sou die wêreld nie soveel beter kon wees as Jesus hier op aarde saam met ons gewoon het nie? Ek het al daaroor gedink. Ek sou graag Jerusalem toe wou vlieg, en met Hom gaan gesels oor my lewe. Maar so sou al die ander gelowiges. Hoeveel tyd sou ek saam met Jesus wou hê? As Hy my net vyf minute sien, dan kan Hy 12 mense in ‘n uur sien. Net 120 mense in ‘n 10 ure werksdag. In vyf minute kan ‘n mens nie al my lewe se drama uitsorteer nie. Die oorgrote meerderheid mense sou nooit by Jesus kon uitkom nie!

Daarom het Jesus vir ons ‘n opdrag gegee, wat Hy in Johannes 15:12 herhaal. Ons moet sy gebooie onderhou. En sy gebod is: ons moet mekaar liefhê soos wat Hy ons liefhet. Ons is hier op aarde om God se liefde met die wêreld te deel. Ons gaan voort met Jesus se aardse sending. Ons doen dit nie alleen, met eie krag nie. Hy het vir ons die Parakleet gestuur. Die 1983-vertaling noem Hom die Voorspraak. Die Griekse woord “parakletos” beteken iemand wat ingeroep word om bystand te gee, soos ‘n advokaat wat jou bystaan met meerdere kennis in ‘n regsaak.

Die Gees van God onderrig ons in God se waarheid. Hy leer ons wie God is, en Hy gebruik die Bybel as God se Woord om ons lewens te vorm en te rig. Hy woon in ons, gee ons die krag om voluit vir die Here te lewe, en om lewenslank te bly groei en verander om meer en meer soos Jesus te word.

Die Gees van God stap saam met elke gelowige die lewenspad, en begelei ons totdat Jesus terugkom om ons te kom haal. Sy teenwoordigheid in my lewe is die waarborg dat ek veilig by my eindbestemming gaan uitkom, eendag by my Vader se huis.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir ons duur kom koop het. Dankie dat ons môre Goeie Vrydag kan vier, en kan onthou dat U gesterf het, sodat ons waarlik kan lewe. Help my deur die krag van u Gees om voluit te lewe, om my naaste lief te hê soos wat U hulle liefhet. Dankie dat die Gees my lei op my lewenspad, en my vorm om al meer na u beeld hervorm te word. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS