Bible Society of South Africa

Ek glo in God ... - 4 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

Ek is een van daardie gelukkiges waar God, die Bybel en die kerk baie belangrik was in my ouerhuis. Dink ek terug aan die gemeente waar ek opgegroei het, moet ek bely dat ek nie veel van die predikant se preke onthou nie, maar ek onthou wel Bybelgedeeltes wat ek toe uit my kop geleer het, byvoorbeeld Psalm 23, Psalm 121, Johannes 3:16 en ook die Apostoliese geloofsbelydenis wat ons, soos die geval in baie Christelike kerke die wêreld oor, elke Sondag gehoor het.

Eers later in my lewe het ek werklik begin dink oor wat ons nou eintlik sê. Wat beteken dit as ek sê: “Ek glo …” In die loop van hierdie maand hoop ek om ‘n paar van my ontdekkings met julle te deel.

Almal glo, selfs al sê mense hulle glo in niks dan glo hulle steeds – in niks. Ek dink dit is uiters belangrik om te weet wat ons glo en wat geloof vir ons beteken. Ons hoef nie verder te soek as die verhaal van Abraham en Sara in die Bybel nie. Lees ons wat Paulus oor hulle sê besef mens hulle het vol vertroue in ‘n magtige Persoon geglo. In Romeine 4:17b lees ons: “… God in wie hy [Abraham] geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.” Dit is die belangrikste deel van ons geloof dat ons kan sê ons glo in dieselfde God in wie Abraham geglo het.

In die daaropvolgende vers in Romeine 4 sien ons dat geloof te midde van pyn en swaarkry vir Abraham troos en hoop gebring het. “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword …” Abraham en Sara se droom vir ‘n kindjie is oor baie jare keer op keer vernietig, en tog het Abraham geglo en gehoop dat God sy belofte gestand sal doen. Die lewe is nie maklik nie, maar God sê Hy is altyd daar, selfs te midde van al ons swaarkry en pyn. Ons moet net glo.

Daar is nog heelwat te sê oor geloof en ons sal môre kyk wat ons verder by hierdie bejaarde egpaar daaroor kan leer.

Gebed: Here Jesus, dankie dat ek met vertroue kan sê ek glo, maar help my asseblief wanneer ek soms in ongeloof verval. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS